Local newsNews

Oud-Bastion leerder gekroon as Mnr Tiener SA

'Aanhouer wen. Maak nie saak hoeveel keer jy tweede of laaste eindig nie, elke een sal hul wen kry.'

Toe Kyle Ras, 16, onlangs die gesogte Mnr Tiener SA-titel gewen het, is ‘n droom wat drie jaar gelede ontstaan het, vir hom bewaarheid. Maar, dit was nie altyd net maanskyn en rose nie.

Kyle, ‘n oudinwoner van Witpoortjie en ‘n voormalige Hoërskool Bastion-leerder, het vertel dat hy in 2017 aan sy eerste modelkompetisie deelgeneem het, en alhoewel hy redelik goed presteer het, kon hy net nooit die groot prys agter sy naam skryf nie.

“In 2017 het ek aan my eerste kompetisie deelgeneem, Figures Face of the Year saam met my tweelingbroer Okkert en suster Linette. Ek was ‘n ‘top scorer’ in daardie kompetisie en wou toe weer deelneem. My broer en suster het besluit dit is nie vir hulle nie. Ek het daardie jaar aan nog een kompetisie deelgeneem, in 2018 het ek aan twee kompetisies deelgeneem asook die IMTA Model and Talent Convention op die MSC Sinfonia waar ek die kategorie Commercial Print gewen het en algeheel vyfde geëindig het. Ek het as byspeler in Binnelanders en The Girl from St Agnes gespeel en was tweede Prins by Mr Midvaal 2019,” het Kyle gesê.

Toe hy die geleentheid sien om aan die Mnr Tiener SA kompetisie deel te neem, het hy nie gehuiwer nie, en hy het vertel, “Ek het my ma gevra om vir my die inskrywing te doen. In Maart het die organiseerders aangekondig dat hulle die kompetisie gaan aanpas as gevolg van Covid-19. Ons eerste taak was om sporttoerusting te skenk aan Mnr SA 2019 se organisasie, en ‘n video in te stuur oor wat die item vir jou sport beteken het. In Parys word daar nie hokkie by die skool aangebied nie en ek het toe besluit om my hokkiestel te skenk.

“Ons tweede taak was om maskers en handsaniteermiddels te verkoop, waarvan ‘n gedeelte van die verkope aan klein besighede geskenk is. Ons moes binne ‘n sekere aantal maande stemme werf deur middel van ‘n plakkaat met ‘n strepieskode op waarmee mense vir ons kon stem deur die Zapper-toep te gebruik.”

Kyle Ras is as Mnr Tiener SA gekroon. Foto ingestuur.

Hy het bygevoeg dat hy baie opgewonde was toe hy gehoor het hy is die volgende Mnr Tiener SA, en het gesê, “Dit is ‘n groot voorreg, ‘n onverwagte aangename verrassing! Ek is die eerste Mnr Tiener SA sedert 2013 en ek dink dat die titel in die toekoms baie vir my kan beteken. Ek wil eendag graag die wêreld vol reis, en as model/ akteur is dit beslis moontlik.”

Maar, Kyle weet ook dat jy nie nét agteroor kan sit omdat jy nou die titel gewen het nie; daar is ook sekere verantwoordelikhede en vereistes waaraan jy moet voldoen.

Om ‘n goeie Mnr Tiener SA te wees, glo ek ‘n goeie persoonlikheid tel baie. Jy moet ‘n passie vir modelwerk hê en ook nie skaam wees as jy onderhoude en fotosessies moet doen nie. Jy moet ‘n mikpunt hê, iets wat jou dryf om beter te wees, en jy moet ‘n voorbeeld wees vir SA se jeug,” het hy gesê.

As Mnr Tiener SA het hy ook ‘n paar dinge wat hy graag wil vermag, maar sy heel eerste taak as die nuwe titelhouer is iets wat hom na aan die hart lê, “Ek het ‘n groot passie vir hardloop en oefen vyf dae ‘n week. Ek hardloop tussen vyf en 15 kilometer per dag. Sonder goeie tekkies sou dit nie moontlik gewees het nie. Ek wil hierdie jaar gebruik om tekkies in te samel vir minderbevoorregte atlete, wat gereeld groot wedlope kaalvoet aandurf en voltooi.”

Hy het die volgende boodskap gedeel, “Ek het tydens my modelreis geleer dat aanhouer wen. Na al die kompetisies waaraan ek deelgeneem het, het ek steeds aanhou probeer al het ek nooit gewen nie. En dit is ook my boodskap aan ander wat hierdie pad stap – moet nooit opgee nie, maak nie saak hoeveel maal jy tweede of laaste kom nie.”

Kyle, wat nou in Parys woon, het afgesluit, “Ek is baie dankbaar vir my familie en vriende se ondersteuning, asook my Parys-gemeenskap wat my ondersteun het met masker- en handsaniteermiddelaankope, asook vir hulle stemme”.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Clinton Botha

For more than 4 and a half years, Clinton Botha was a journalist at Roodepoort Record. His articles were regularly published in the Northside Chronicle now known as the Roodepoort Northsider. Clinton is also the editor of Randfontein Herald since July 2020. As a sports fanatic he wormed his way into various "beats - as the media would know it - and admits openly that his big love always have something to do with a scoreboard, crowds and usually a ball that hops.
Back to top button