‘n Rit teen plaasmoorde
Om bewusmaking rondom plaasmoorde te skep het dié twee perderuiters 'n trek vanaf Brits tot Bloemfontein begin en onlangs in Hekpoort gestop om te rus.
Plaasmoorde is deesdae vir sommige ‘n omstrede onderwerp binne die huidige sosiale klimaat in die land. Boere regoor die land wil graag hul stem laat hoor en sodat elkeen wat dit hoor bewus kan word van hul daaglikse stryd en vrese.
Twee manne wat hierdie missie swaar op die hart dra is wildvanger Patrick David en perde-afrigter Gideon van Tonder. Hulle het Saterdag, 14 November vroeg die oggend te perd uit Beestekraal net buite Brits vertrek op ‘n rit van tussen 470 en 520 kilometer (afhangend van die pad en veldroetes wat hulle kan volg) Bloemfontein toe.

Hulle het op Woensdag, 18 November in Hekpoort aangekom waar hulle oornag het om hulself en hul perde te laat rus. Joe Grobler van Bushwackers Pub en Jan du Bruyn het die manne en hul perde gedurende die dag van kos en drinkgoed voorsien voordat hulle na hul oornagplek vertrek het.
Patrick en Gideon neem dit rustig en beplan om teen 16 Desember in Bloemfontein te wees vir ‘n Geloftedagviering. Hulle kan langs die pad uitgeken word aan hul vlootblouhemde en vlae met wit kruise daarop. Hulle is afhanklik van donasies van die inwoners van die vele dorpe waardeur hulle ry.
Indien jy die legendes wil help, besoek hul Facebook-blad Legends in the saddle. Rit vir Plaasmoorde vir meer inligting.
