Ma van tweeling kraam; GPF help met geboorte
Die Sektor 5 se GPF het onlangs 'n eerste beleef toe hulle gehelp het om tweelingseuntjies in die wêreld te bring.
Baie mense is nie lief vir Maandae nie en niemand wil ‘n blou Maandag hê nie. Vir die span van Sektor 5 se Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het hul week geseënd afgeskop.
Op Maandag, 23 November, net na 7.25vm het hulle die oproep ontvang dat ‘n ma wat sewe maande swanger was met ‘n tweeling in kraam gegaan het.
Liz du Plessis van Sektor 5 het vertel dat sy dadelik die ambulans gebel en ‘n noodoproep oor hul radio uitgestuur het.
“Johan en Marjorie Wessels wat beide ‘n Vlak 3-noodhulpkwalifikasie het, het gereageer op die oproep. Johan het buite gewag en Marjorie het ingegaan om na die ma om te sien,” het Liz gesê.
Terwyl Marjorie met die ma besig was, het Liz ook opgedaag en hulle is bygestaan deur Louise Els, ‘n Sektor 5-patrolleerder. Die eerste seun is omstreeks 8.08vm gebore en sy broer ‘n paar minute later teen omstreeks 8.18vm.
“Beide babas was pragtig en gesond. Ons het later gehoor dat albei 1,6kg geweeg het,” het sy gesê.
Netcare 911 het opgedaag en seker gemaak dat die ma en babas stabiel was voordat hulle hospitaal toe geneem is.
“Dit was ‘n eerste vir ons – die eerste keer in 10 jaar wat ons ‘n tweeling vang.”
Liz het verduidelik dat die meeste van hul patrolleerders Vlak 3-nooddienskwalifikasies het, en dat mens in Vlak 3 leer hoe om ‘n baba te vang.
