Ontmoet die nuwe Mnr Krugersdorp
'Ek wil 'n verskil maak, 'n ambasadeur vir Krugersdorp wees en elke geleentheid tot die beste van my vermoë aanpak.'
‘n Man met ‘n omgeehart. Dit is dalk die beste manier hoe mens die nuwe Mnr Krugersdorp, Wim Keet, kan beskryf.
Op 21 November het Wim, ‘n onderwyser by Laerskool Ebenhaeser sy titel ontvang, ‘n titel wat hom gaan help om meer te doen vir sy gemeenskap en ‘n rolmodel te wees vir die jeug.
Die 30-jarige Wim is oorspronklik van Roodepoort en het in 2009 aan Hoërskool Roodepoort gematrikuleer.
Die kompetisiedeelnemers raak baie betrokke by die gemeenskap en dit het Wim aangespoor om in te skryf. Die kompetisie het hom die geleentheid gegee om meer vir liefdadigheid te doen, en hy het by Hulp vir jou Medemens aangesluit en saam met Elizabeth Swanepoel, die stigter van die organisasie, gehelp om mense van kos te voorsien. Hy help ook met ‘n herwinningsprojek by sy skool.
Hy het vertel dat die kompetisie hom gehelp het om selfvertroue te bou en hom die kans gee om ‘n rolmodel vir die jeug te wees. As onderwyser het hy ‘n sagte plek vir die jeug van die gemeenskap.
Wim het gesê dat daar iets is wat hom van kleintyd af inspireer, en waarin hy steeds elke dag glo. Dit is Filippense 4 vers 13: Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.
Ek glo ons as mense kom soveel uitdagings elke dag teë, en hierdie vers het my nog altyd deur my uitdagings gehelp,” het Wim gesê.
Sy planne vir die toekoms is om aan nog modelkompetisies deel te neem en sy modeleksamen te voltooi. Hy is tans by Oxygen Models waar hy deur Elmarie Nolte afgerig word. Hy wil ook graag oorsee gaan skoolhou en glo dat hy ‘n verskil in die wêreld kan maak, veral by kinders.
Hierdie was maar die tweede kompetisie waaraan hy deelgeneem het, nadat hy in 2015 in Mpumalanga aan die Mnr Kriel-kompetisie vir liefdadigheid deelgeneem het.
Op die vraag, watter deel van die kompetisie vir hom die lekkerste was, het Wim vinnig geantwoord dat die liefdadigheidswerk en die hulp wat hy kon bied die beste deel was. Tydens die pandemie het hy kospakkies bymekaargemaak, ouetehuise besoek en by Hulp vir jou Medemens gehelp.
Die slegste deel vir hom was egter die grendeltyd, en hy het gesê, “Mens was beperk met die plekke wat ons kon besoek maar ek het probeer om ‘n plan te maak. Dit was hartverskeurend om te sien hoe swaar mense kry, veral in Krugersdorp-Wes. Maar ek kon sterk staan en het gehelp waar ek kon.”
Wim het verduidelik dat sy passie vir kinders van sy ma, Maida Keet af kom. Sy was self ‘n onderwyser by verskeie skole en as kind het Wim altyd opgekyk na haar en betrokke geraak by onder andere die skoolwerk en die sport. Na skool het hy besluit om sy graad in onderwys te voltooi.
Ek gee al agt jaar skool en geniet dit nog steeds elke dag,” het hy laggend vertel.
So wat lê vir Wim voor vir 2021?
Hy het vertel dat hy sy modelloopbaan wil uitbrei en dat hy reeds genooi is om vandeesmaand as beoordelaar by ‘n modekompetisie in Kempton Park op te tree.
Ek wil ‘n verskil maak, ‘n ambassadeur vir Krugersdorp wees en elke geleentheid tot die beste van my vermoë aanpak.”
Hy nooi graag die gemeenskap om na sy Facebook-blad te kyk om te sien waarmee hy besig is asook hoe mense by van sy projekte betrokke kan raak.
