Ontmoet die nuwe Mev Krugersdorp
'Die inperkingstyd het my geleer om te waardeer wat jy het, asook om die mense in jou lewe te waardeer' – Nadine van Staden.
Dit het maande geneem voordat Nadine van Staden uiteindelik besluit het om in te skryf vir die Mev Krugersdorp-kompetisie, maar dit was die moeite werd.
Op Saterdag, 21 November is Nadine as Mev Krugersdorp 2020/ 2021 aangewys. Die 33-jarige Nadine is ‘n ma van twee. Sy het vertel dat sy eers in haar 30’s geleer het dit is nie nodig om jouself aan ander te meet of om in jouself te twyfel nie.
Lank voor Nadine vir dié kompetisie ingeskryf het, het sy en haar man reeds begin om behoeftige kinders te help, en die kompetisie het haar net ‘n ander platform gegee om haar omgeehart groter oop te maak teenoor haar gemeenskap.
Vir agt jaar is sy al deel van die Krugersdorp-gemeenskap maar sy kom oorspronklik van Port Elizabeth af. Die laaste keer toe sy op ‘n loopplank was, was toe sy 15 was.
Sy het in 2019 uit haar werk bedank om haar man met sy besigheid te help en om by haar kinders te wees. Deesdae verdeel sy haar tyd tussen haar man, kinders en liefdadigheidswerk.
Die inperkingstyd was die moeilikste deel van die kompetisie vir my. Ek is ‘n mense-mens en kon nie altyd uitgaan om ander te help nie,” het sy gesê.
Sy het steeds ‘n plan gemaak om by die reëls te hou en ander te help.
Sy het die afgelope jaar baie by die Cradle of Hope betrokke geraak en het hulle gehelp donasies bymekaar maak, of self gaan broodjies smeer of kos opgeskep. Toe die organisasie na hul nuwe perseel toe getrek het, het sy hand bygesit. Sy probeer nou om huishoudelike items vir hulle bymekaar te maak.

Dan is sy ook betrokke by die We’re Against Starvation (WAS) Foundation en het gehelp met hulle Handbags of Hope Vroue-oggend.
Die inperkingstyd het my geleer om te waardeer wat jy het, asook om die mense in jou lewe te waardeer. En as jy kan gee, dan moet jy gee.”
Een van die uitdagings vir die deelnemers tydens die kompetisie was om maskers bymekaar te maak, en Nadine het dit as ‘n geleentheid gesien. Sy het besighede genader om finansiële donasies te maak, en het daardie geld toe gebruik om maskers by die werklose vroue van die WAS Foundation te bestel en die maskers vir behoeftige mense te skenk.
Ten spyte van Covid-19 het Nadine baie van haar 2020-doelwitte bereik en selfs ‘n grimeerkursus voltooi. Behalwe om ‘n inspirasie vir ander vroue te wees en aan te gaan met haar liefdadigheidswerk het Nadine gesê dat sy in 2021 wil uitbrei en meer mense help. Sy en van die ander deelnemers en wenners het reeds besluit dat hulle gaan saamwerk.
Sy het vertel dat die vriende wat sy gemaak het tydens die kompetisie baie waardevol is, en dat sy geleer het elke deelnemer is uniek en sy of haar eie storie het om te vertel.
Gaan gerus na Nadine se Facebook-blad om te sien waarmee sy besig is en hoe jy kan deel word.
