Die nuwe Miss Petite Krugersdorp
Azalea Hood is onlangs as Miss Petite Krugersdorp 2020/2021 gekies en dra haar kroon met trots.
Klein botteltjies, groot gif – so sê hulle.
Op net agt jaar oud wys die nuwe Miss Petite Krugersdorp 2020/ 2021, Azalea Hood dat niks in hierdie wêreld haar gaan afskrik om haar drome na te volg nie.
Sy het twee jaar gelede met modelwerk begin, hoofsaaklik om minder skaam voor mense te wees. Hierdie skaamheid het nie lank gehou nie en sy het gou die loopplank haar eie gemaak.
‘n Jaar later het sy besluit om vir die eerste keer aan ‘n skoonheidskompetisie deel te neem toe aansoeke vir Miss Cansa 2019 geopen het. Dit was net ‘n voorsmakie van wat sy in 2020 sou aanpak.

Niks was hierdie jaar vir haar meer aanloklik as die Miss Petite Krugersdorp-kompetisie nie. Azalea het gevoel dat dit tyd was vir haar om ‘n verskil te begin maak met haar modelwerk, en dat hierdie skoonheidskompetisie, met sy fokus op liefdadigheid, ‘n goeie keuse sou wees.
“Ek wou mense help en gelukkig maak,” het sy met ‘n sagte glimlag vertel.
Ek voel nogal baie goed want ek help mense. Ek het vir bejaardes wat siek is blomme gegee en elke tweede week vir mense kos gegee.”
Azalea is uiteindelik op Saterdag, 21 November tydens die finale rondte voor ‘n opgewonde gehoor as Miss Petite Krugersdorp gekroon.
“Ek wil vir almal help en die wêreld ‘n beter plek maak,” het sy verduidelik terwyl sy die kroon op haar kop versigtig verstel het tot dit net perfek gepas het.
Die lekkerste deel van die kompetisie was om almal se rokke te sien en te weet ek gaan wen, en te hoop iemand anders sal ook wen. Die moeilikste was om nie te bewe nie. Ek het ‘n bietjie gestres en gevoel of ek van die verhoog gaan afval,” het Azalea verleë gesê.
