Weldoeners bederf haweloses met driegang Kersete
Meer as 300 mense is onlangs bederf met 'n driegangmaaltyd en 'n Kerspartytjie uit die boonste rakke.
Honderde mense het onlangs aangesit by pragtig gedekte tafels vir ‘n Kersete wat by die Tower of Life-mansskuiling gehou is.
Op Saterdag, 28 November het 300 mense van die Tower of Life, Christian Life Savers, die Heilsleër, die Tower Vroueskuiling, die Cradle of Hope-huis en die haweloses wat buite op die straat slaap die Kersete geniet.
Daar is ‘n driegangete bedien en elke persoon het ook ‘n geskenkie gekry. Die span het boonop ‘n partytjie gehou vir die kinders wat daardie aand daar was. As ‘n spesiale bederf het Hoërskool Monument se musiekskoolleerders vir hulle kom viool en tjello speel.

Maar soos Mari Ackerman wat die ete gereël het verduidelik het, was die ete nie net om vir die mense kos te gee en ‘n Kerspartytjie te hou nie.
Mari het die prentjie geskets van ‘n persoon wat op straat bly, ‘n man wat vir sy familie moet sorg. Hoe hy elke dag uitgaan om te probeer geld bymekaar maak sodat sy familie daardie aand veilig kan slaap en eet. Hoe hy elke dag gaan werk soek, want ‘n werk gee hoop vir ‘n beter lewe. Hoe daar neergekyk word op die mense en hulle afgejak word by verkeersligte en winkelsentrums wanneer hulle vra vir geld of kos.
Mari het verduidelik dat die funksie gehou is om die mooi terug te sit in hierdie mense se lewens, omdat daar werklik so min mooi in hul lewens is.

Sy het vertel van ‘n man wat die aand van die ete by hulle aangesluit het en in trane vir haar gesê het, “Ek is ‘n ordentlike mens”.
“Ek kry hierdie mans so jammer, daar word van hulle verwag om die broodwinners te wees maar dit is so moeilik,” het sy gesê.
Mari kook elke maand aandete vir die mans by die Tower of Life en het gesê dit was skokkend om te sien hoeveel nuwe jongmense daar opdaag.

Sy wil nie die fokus op haarself hê nie en sê sy probeer elke jaar so ‘n partytjie hou.
Hierdie is nie weggooimense nie,” het sy vertel, en bygevoeg dat enigiemand wat wil help haar gerus kan kontak.
Sy bedank ook graag vir Mollie Verhurings vir die tafels en stoele, West Rand Pack vir die borde en eetgerei, die Rabbit Hole vir hulle aandeel, en vir elke ander skenker wat gehelp het om die aand moontlik te maak.
Indien jy betrokke wil raak en vir Mari wil help, kan jy haar kontak by 081 764 5719.
