Vir een inwoner van Maasdorpstraat in Krugersdorp-Wes is die water wat al van verlede jaar af in haar straat afloop ‘n groot frustrasie.
Daar word boonop niks aan dié waterlek gedoen nie.
Anna Te Boekhorst bly al vir meer as 15 jaar in dié huis en het verduidelik dat die spesifieke waterlek al voorheen aangemeld en reggemaak is.

Dié keer lek die water al vir amper ‘n jaar uit. Sy het die News op die hoek van Maasdorp- en Jobstraat gaan wys dat dit nie net ‘n waterlek was nie, maar dat die water sterk loop.
Anna het gesê dat sy self die waterlek al menige male aangemeld het. Die News het ook by wyksraadslid Trudie Naude bevestiging ontvang dat sy self al die waterlek verskeie kere gerapporteer het.

Menige inwoners in die dorp kla oor waterlekke wat nie reggemaak word nie, asook waterrekeninge wat astronomies hoog is. Die vraag is, wie betaal vir hierdie water? Anna het vertel dat die water soms aardig ruik, en dit laat dele van die teerpad insak.
Ek wil nie kla nie,” het Anna gesê, maar bygevoeg dat dit hartseer is om al daardie honderde liters water elke dag te sien verlore gaan.
Die News het die Mogale City Plaaslike Munisipaliteit genader vir terugvoer maar het teen druktyd nog niks ontvang nie.
