“Ek wil vir u die versekering gee dat met ‘n jaar van vreemde aanpassings en voortdurende verandering, soos 2020 […] is ons vir seker beter toegerus en voorbereid vir wat die nuwe jaar ook al van ons gaan vereis.”
So sê Donna Lourens, hoof van Laerskool Protearif.
Hy het verduidelik dat onverwagte veranderings aan die skooljaar deurgegee word op platforms wat reeds geskep is en dat ouers en leerders wat nie toegang tot hierdie platforms het nie, hul skole moet skakel as hulle nie seker is nie.
Die nakoming van Covid-19 regulasies/ protokols is volgens hom nou al tweede natuur en daar sal soos verlede jaar streng by die veiligheidsmaatreëls gehou word vir die veiligheid van elke leerder, opvoeder en ouer.
Hy het bygevoeg dat 2020 nie so ‘n groot sukses sou gewees het as dit nie vir die Krugersdorp-gemeenskap, ouers se toewyding, entoesiasme en samewerking was nie. Hy wil 2021 as ‘n avontuur of eerder as ‘n reis beskou om nuwe dinge te ontdek. Al was hulle reeds reg om op 27 Januarie te begin het hulle vinnig hul voorbereiding of toerplanne aangepas om eers op 15 Februarie te begin.
Hy vergelyk hierdie avontuur met ‘n wildsreis en sê mens sien nie sommer die Groot Vyf op die eerste dag nie, daarom vra hy leerders moet geduldig wees en uitkyk vir geleenthede om aan te gryp.
“Op alle terreine van die lewe is daar streng instruksies en reëls waarby gehou moet word. Hou by die hektye en wees betyds. Dra jou masker. Ontsmet of was jou hande gereeld. Handhaaf sosiale afstand. Moenie rommel strooi nie. Moenie onnodig ‘vuur’ maak (mense irriteer) nie. Moenie plante beskadig nie. Respekteer jou medeleerders en bewaar wat vir ons kosbaar is!”
Sy reiswenke aan ouers en leerders vir 2021 is:
• Beplan en wees voorbereid.
• Maak ‘doenlysies’ – dit voorkom laaste-minuut-op-die-nippertjie-goedjies en laat jou kinders rustig voel!
• Reis ‘lig’ – fokus op dit wat jy régtig nodig het en pak baie daarvan in! ‘n Positiewe ingesteldheid neem geen plek op nie.
• Trek gemaklike skoene aan. ‘n Mens weet nooit hoe ver jy dalk moet stap nie en jou skoene los spore, waar jy ook al trap!
• Sorg dat jy genoeg van jou eie ‘mediese’ voorraad soos maskers, snesies en saniterings-/ ontsmettingsmiddel het.
• Bly in kontak met jou mense soos jou voog- en vakonderwysers.
• Sorg dat jou kind se ‘paspoort’ (geboortesertifikaat) by die kantoor of by sy ‘gids’ is en die ‘toergeld’ betaal en op datum is!
• Padkos is baie belangrik. Eet gesond, oefen gereeld, wees fiks en drink genoeg water.
• Moenie verdwaal nie. Behou jou geloof, vertroue en hoop, en gebruik tegnologie.
• Wys en wéés wie jy is gedurende 2021: Vriendelik, trots, positief, propvol entoesiasme.
“Ons is opgewonde oor die nuwe jaar wat voorlê. Pak julle tasse en geniet elke oomblik.”
