Groot dinge is aan die gebeur by Laerskool Ebenhaeser en die skoolhoof, Renier du Preez, is opgewonde vir wat 2021 inhou.
“Hierdie jaar het ons besluit om ‘n tema te hê,” het Renier vertel.
Die tema vir 2021 is ”n Nuwe begin. Groei. Verander. Verbeter’. Maar vir eers fokus die skool op hul kwartaaltema wat ‘Ebies ryk uit’ is en Renier het verduidelik dat hulle geel en swart strikkies gaan dra vir hulle tema. Selfs die skool is versier met geel en swart strikkies en die bome is in swart en geel lap toegedraai.
Kyk hier:
Die leerders, onnies, ouers en gemeenskap gaan die strikkies dra en word verbind aan drie gedagtes. Die eerste is om mense te herinner hulle moet veilig wees in die Covid-19 tyd, en tweedens is dit om dankie te sê vir almal wat hul lewens in gevaar stel om ander in dié tyd te help. Renier het bygevoeg dat dit die onderwysers insluit.
“Ons wil ook vir ons onderwysers dankie sê dat hulle ten spyte van moeilike omstandighede omgee vir die kinders en net hul beste gee.”
En die derde is ter herinnering aan al die geliefdes wat hul lewens verloor het in dié tyd.
As deel van hul uitreikplan gaan die skool besoek aflê by frontwerkers om vir hulle dankie te sê vir wat hulle doen.
Hulle wil ook insamelings hou om dié mense in die gemeenskap te help wat aan die begin van Januarie deur die vloede geraak is, asook dié wat sukkel as gevolg van die inperking.
Die laaste deel van hul uitreik is vir die kinders, en Renier het vertel dat die skool se onderwysers gratis ekstra klasse na skool gaan aanbied.

“Hierdie jaar is ‘n tyd vir ons om te sê ons moet nuut begin, en dat daar na die moeilike tye altyd weer goeie tye is.”
Renier het vertel dat hulle wil hê almal moet weet hul skool is netjies, veilig, gereed en opgewonde om die kinders terug te ontvang.
Die leerders het ook begin met ‘n nuwe nuuskanaal waar hulle bietjie meer gaan vertel oor wat by die skool aangaan. Daar kan na hierdie ‘nuusberigte’ op die skool se Facebook-blad gekyk word.

Die laaste nuwe toevoeging tot dié skool is hul nuwe Graad RR-klas by hul Ebieland wat op 10 Februarie geopen is. Renier het vertel dat hulle besluit het om met ‘n Graad RR-klas te begin omdat hulle wil hê hul leerders moet ‘n lang pad saam met hulle stap.
Hou beslis die skool dop, want dit lyk of hier nog groot dinge kom.


