Die Graad 8’s van Hoërskool Bastion is onlangs as ware Bastionners ingelyf – eers tydens hul groentjiekonsert en toe met die klokluiseremonie.
Op Donderdag, 25 Februarie was die nuwe lede Survivors tydens hul groentjiekonsert. Net soos in die realiteitsreeks is die Abalingisis oftewel Castaways in stamme opgedeel. Elke stam het sy eie unieke naam gekry wat gebaseer was op die vrug van die gees soos in Galasiërs 5 vers 22 en 23.

Die 8B’s was Uthando (liefde), die 8A’s Uvuyo (vreugde), die 8S’e Ukuthula (vrede), die 8T’s Mamello (geduld), die 8I’s Botšepehi (getrouheid) en die 8O’s Boikokobetso (nederigheid).
Hierdie jaar het die skool se talle Graad 8’s net een week gehad om vir die groentjie-optredes te oefen. Amanda de Jager van die skool het gesê dat die optredes ‘n reuse sukses was ten spyte van die uitdagings wat Covid-19 en die weer gebring het.
“Maar nadat ons plan D gemaak het, het alles bymekaargekom en ons het een van die beste groentjie-optredes nog gehad,” het sy gesê.
Gewoonlik sal die skool tydens dié aand hul capping-seremonie ook hou maar as gevolg van die Covid-19 regulasies het hulle besluit om dit eerder saam met hul klokluiseremonie op Vrydag, 26 Februarie te hou.
Albei is tradisies waar die Graad 8’s ingelyf word as ware Bastionners na hul oriëntering en groentjie-optredes.

“Die lui van die klok is baie spesiaal want dit simboliseer elke kind se ‘intrede’ by Bastion. Wanneer hulle dan in Graad 12 is, lui hulle weer die klok met hul ‘uittrede’ uit Bastion.”
Die hoof, Gert Koekemoer, het Vrydagoggend vir die Graad 8’s gesê dat elkeen die potensiaal het om ‘n leier te wees. Hulle moet hul talente gebruik en vir hulself sê dat as hulle hul skoolklere aan het, moet hulle die wil van God doen.

Gert het gesê dat 2020 ‘n goeie jaar was maar dat hulle in 2021 meer voorbereid is en reg is om dit selfs ‘n nog beter jaar te maak.
Twee van die 2020-matrieks, Amanda Jordaan en Clayton Lloyd, het ook elk ‘n toekenning ontvang omdat hulle tydens hul hele skoolloopbaan nie een dag afwesig was nie.

Daarna het elke nuwe Bastionner die geleentheid gekry om deur die hoof ge-cap te word, voordat Sonique Basson, vanjaar se hoofdogter, en hoofseun Ethan Jones hulle gehelp het om hul baadjies aan te trek en hulle dan die klok gelui het. Elke Graad 8 het ook ‘n klein Bybeltjie van die Gideons ontvang.
