Die Graad 1’s van Laerskool Ebenhaeser is onlangs bederf en kan nou lekker met hul nuwe skryfbehoeftes werk.
In Januarie het die News berig oor Ruan Sinden, Mr Krugersdorp eerste prins en sy vriendin Karen Barkhuizen wat graag vir die Graad 1’s nuwe skryfbehoeftes wou insamel. Ruan het vertel dat nie al die ouers die nuwe skryfgereedskap kan bybring nie, des te meer na die inperking waartydens baie mense hul werk verloor het.
Soos gewoonlik het die Krugersdorp-gemeenskap saamgestaan en waar daar aanvanklik net ‘n handjievol skryfbehoeftes ingesamel is, het dit vinnig ‘n bakkievrag geword.

Op Woensdag, 3 Maart, kon die twee meer as 60 pakkies skryfbehoeftes aan die skool oorhandig. Hierdie pakkies het alles ingehad wat ‘n Graad 1 in Laerskool Ebenhaeser vir die skooljaar sou nodig hê. Maar dit was nie al nie; daar is ook baie ekstra skryfbehoeftes, toiletpapier en drukpapier vir die skool geskenk.
Elkeen van die 105 Graad 1’s in Ebies het ook dié oggend ‘n koeldrank en ‘n suigstokkie gekry as ‘n lekker bederf.
Die Ebies was nie die enigstes wat gebaat het nie en Ruan het vertel dat hulle na die berig in die News oproepe van ouers ontvang het wie se kinders in ander skole is. Hulle kon toe daardie kinders ook voorsien van die nodige skryfbehoeftes.

Ruan het vertel dat hy met trots kan sê die projek was ‘n sukses en dat hy beslis weer so ‘n projek sal aanpak.
Ek wil baie dankie sê aan elkeen in die gemeenskap wat ‘n bydrae gegee het,” het hy gesê en vertel dat daar reeds ‘n paar ander projekte is waaraan hulle ook werk.
