‘n Wiskunde Olimpiade is ‘n opwindende wyse waarop laerskoolleerders ‘n liefde vir wiskunde kan aanleer.
Alhoewel die meeste volwassenes vandag nie noodwendig blye herinneringe van hul wiskundeklasse op skool het nie, kan dit wel vir leerders pret wees om hulself en hul maats gedurende ‘n olimpiade uit te daag.

Laerskool Krugersdorp-Noord is tans besig met so ‘n kompetisie wat verskeie toetse oor ‘n klomp weke behels.
Die eerste toetse is op Vrydag, 12 Maart in die klaskamers by die skool afgelê. Die leerders is 15 minute toegelaat om al die berekeninge te voltooi, maar almal was reeds binne die eerste vyf minute daarmee klaar.

Vir die Graad 4’s tot die Graad 7’s is dit ‘n ernstige kompetisie en die top tien leerders sal aan die einde van die olimpiade medaljes ontvang. Vir die jonger grade gaan dit meer net oor pret en oefening.
Die toetse sal geleidelik moeiliker word en die leerders sal minder tyd hê om dit te voltooi.

Noordskool beoog om die olimpiade mettertyd elektronies te aan te bied sodat die leerders die toetse in die rekenaarsentrum of aanlyn op ‘n toep kan aflê.
