In EPR Sekuriteit se jongste misdaadverslag het algemene bestuurder Johan Krogh gewaarsku dat hulle ‘n toename in misdaad voor die langnaweek verwag.
“Dit is duidelik uit die insidente dat daar weer ‘n toename in misdaad is wat kenmerkend is voor die aanvang van langnaweke en vakansietye.”
Die verslagtyd strek van 26 tot 28 Maart en 13 insidente is in dié tyd by die sekuriteitmaatskappy aangemeld.
Lees ook: The Best Smart Home Security Systems
Op Vrydag, 26 Maart het die span op agt insidente gereageer. Dit sluit in twee van beskadiging van eiendom waarvan die een by ‘n besigheid op ‘n plot in Sterkfontein en die ander by ‘n besigheid in Reservestraat in Wentworth Park was. Verder is daar ook ‘n poging tot motordiefstal in Karlstraat in Krugersdorp-Wes aangemeld, en twee gevalle van diefstal – een in Mainstraat in Wentworth Park en een in Ysterbergstraat, Noordheuwel.
Saterdag, 27 Maart was ‘n bietjie rustiger en net twee gevalle is aangemeld, waarvan een ‘n diefstalsaak in Rissikstraat was.
Drie insidente is op Sondag, 28 Maart aangemeld. Een daarvan was ‘n verkragting in Luipaardstraat en ‘n ander ‘n diefstalsaak in Marketstraat.
In die aanloop tot die komende Paas-langnaweek is dit belangrik dat huiseienaars en besighede hul alarmstelsels gebruik, en seker maak dat dit in ‘n werkende toestand is,” het Krogh gesê.
Hy het bygevoeg dat skole aangeraai word om te verseker dat rekenaars in kluise gebêre word en dat alle deure behoorlik gesluit word.
“Moontlike inperkings weens Covid-19 oor dié tydperk gaan ook sekerlik ‘n groot inpak hê op misdaad in die area.”
