Local newsNews

Jou matriekafskeiddroom kan waar word

Madré Botha van die Princess For a Day-organisasie is reeds besig voor te berei vir die potensieel besige matriekafskeidseisoen.

As 2020 ons enigiets geleer het, is dit dat mens nie heeltemal kan beplan vir die toekoms nie; maar om nie te beplan nie, kan jou ook dalk in die knyp laat beland.

Al voel dit vir die res van ons reeds te vroeg in die jaar om aan dinge soos ‘n matriekafskeid te dink, sê Madre Botha van die Princess For a Day-organisasie dat hulle reeds begin beplan het.

Madré help vir die afgelope ses jaar al jong meisies en seuns om hul droommatriekafskeid te beleef. Sy leen pragtige balrokke en aandpakke uit aan leerders wat graag dié geleentheid wil bywoon maar wie se ouers nie altyd die kostes kan bybring nie.

Sy het oor die jare haar fokus verbreed en waar sy begin het om vir matriekmeisies rokke te leen, help sy deesdae ook bruide op hul groot dag.

Madré het egter onlangs ‘n voltydse pos by die Cradle of Hope aanvaar en daar het ‘n ander nood sy verskyning gemaak. Sy het besef dat daar so baie mense is wat vir onderhoude wil gaan om werk te kry maar wat nie netjiese klere het vir die groot geleentheid nie. Daarom vra sy nou dat indien iemand iets wil skenk, hulle asseblief onderhoudpakke en ander geskikte klere asook netjiese skoene sal skenk.

Sy gaan van 1 Mei af begin afsprake neem vir dié wat matriekafskeidklere wil kom aanpas. Ongelukkig sal dit na ure en oor naweke moet gebeur, en ook net per afspraak.

Sy nooi enigiemand wat hulp nodig het om haar te skakel by 078 676 9760 of die kantoor by 076 262 0452.

Die organisasie is ook altyd op soek na skenkings van nuwe, moderne uitrustings. Hulle het veral blommemeisierokke, aandrokke, trourokke, hoëhakskoene, manspakke, dasse, juwele, handsakke, deftige aandpakke, bykomstighede, of klere vir die ma van die bruid nodig.

Alle donasies kan by Stegmannstraat 106 in Krugersdorp-Wes afgelaai word.

Enige donasies is welkom, en dit wat Princess For a Day nie gebruik nie, sal by een van die 16 ander Cradle of Hope House of Restoration-projekte gebruik word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button