Local newsNews

Mostert-egpaar al 60 jaar getroud

Mariaan en Louis Mostert het al 'n leeftyd se herinneringe saam. Die pragtige paartjie het onlangs hul sestigste huweliksherdenking gevier.

‘n Leeftyd saam is nie vir almal beskore nie, maar die Mostert-egpaar het dit reggekry. Op 1 Maart het hulle hul 60ste huweliksherdenking gevier.

Mariaan het vertel hoe hul storie met net een kyk begin het.

Dit was soos die oumense sĂȘ, love at first sight,” het sy laggend vertel.

Sy was in standerd sewe en Louis was in standerd nege. Hulle het saam in Middelburg skoolgegaan en Louis was op die leerlingraad. Dit was die leerlingraad se werk om die aankondigings te doen en die kinders in hul rye te hou.

“Toe kyk hy vir my en ek glimlag,” het sy vertel.

Ses-en-‘n-halfjaar later is die twee getroud. Mariaan het onderwys gegee en Louis was besig om voor te berei om in die bediening in te gaan.

Na Middelburg het die paartjie in Bloemfontein gewoon voordat hulle Pretoria toe verhuis het en Louis sy laaste vier jaar kon klaarmaak om ‘n predikant te word.

In 1966 is hy tot die bediening as predikant van die Nederduitse Gereformeerde Kerk toegelaat.

Die paartjie het toe vir vier jaar in Piet Retief gaan bly voordat hulle Mindalore toe gekom het en ‘n nuwe kerk gevestig het. Hulle was 31 jaar lank betrokke by die NG Gemeente Mindalore en het in 2002 afgetree.

Die paartjie het hul dieselfde jaar in Rant-en-Dal gevestig. Louis was steeds betrokke by die kerk en het tot en met 2019 by die Suiderlig Gemeente gehelp met Bybelstudie vir seniors.

Die paartjie het twee dogters en twee seuns. “Almal is bo 50,” het Louis skertsend vertel.

Hulle spog ook met hul agt kleinkinders en agt agterkleinkinders.

Mariaan het vertel dat sy hul troudag nog baie goed kan onthou en dat dit ‘n herfsdag met perfekte weer was. Alles om hulle was groen. Na die seremonie het hulle ‘n regte boerebruilof op die plaas gehou.

Om die spesiale geleentheid te vier het hul dogter hulle Donderdag, 1 April, uitgeneem vir iets lekkers. Die res van die naweek het hul ander kinders en kleinkinders hulle om die beurt besoek.

Wat beskou die paartjie as die geheim om 60 jaar getroud te bly? Louis het vertel dat mens net moet aanhou, terwyl Mariaan vertel het dat hul geloof hulle gedra het en dat hulle elke dag in liefde aangegaan het. Hulle is net dankbaar dat hulle bymekaar kan wees.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Clinton Botha

For more than 4 and a half years, Clinton Botha was a journalist at Roodepoort Record. His articles were regularly published in the Northside Chronicle now known as the Roodepoort Northsider. Clinton is also the editor of Randfontein Herald since July 2020. As a sports fanatic he wormed his way into various "beats - as the media would know it - and admits openly that his big love always have something to do with a scoreboard, crowds and usually a ball that hops.
Back to top button