NewsSchools

‘n Hop-skop lekker paasfees vir Ebies

Die Deo Gloria Huis het onlangs 'n paar Graad 1's by Laerskool Ebenhaeser met lekkernye vir Paasfees bederf. Die paashaas het ook 'n draai gemaak.

Daar is niks so lekker soos ‘n besoek deur die paashaas nie. Daarom het die span van Deo Gloria Huis onlangs verseker dat van Laerskool Ebenhaeser se Graad 1’s nie net so ‘n besoek kry nie, maar ook sommer behoorlik bederf word.

Op Donderdag, 1 April, het Maud Breet en haar span met arms vol lekkernye by dié skool opgedaag. Terwyl die kinders pouse buite baljaar het, het die span die lekkernye vir hulle op hul tafels uitgepak.

Die twee Graad 1-klasse van onderskeidelik Ilonka Jordaan en Maryne Miles het die lekkernye ontvang.

Elke kind het ‘n worsrol, handgemaakte sak met lekkernye, poeding, sap en ‘n pakkie kitspap gekry om huis toe te neem.

Maud Breet maak die tafels reg vir wanneer die kinders na pouse terugkom. Foto: Natasha Pretorius.

Die span het ook items gebring wat as pryse uitgedeel kon word wanneer daar speletjies in die klas gespeel word, en die twee onderwysers het leesboeke gekry om in die klas te gebruik.

Na die tyd het die paashaas (Steve Craucamp) ook ‘n draai gemaak om vir die kinders te kom sê hulle moet soet wees.

Maud het verduidelik dat die donasies wat hulle van besighede in die dorp ontvang het, dit vir hulle moontlik gemaak het om die 75 kinders te bederf.

Dié leerders kry nie noodwendig iets lekker vir paasfees nie, daarom het hulle ‘n draai by Ebies gemaak. Die organisasie doen deur die jaar sulke uitreike by verskillende skole.

Maud het almal bedank wat die besoek moontlik gemaak het, en veral vir The Candyfloss Company wat spookasem geskenk het, Hollywood Costumes wat hulle gehelp het om die paashaas aan te trek, en dan vir Christa le Roux, die hoof van Deo Gloria Huis, wat dit vir hulle moontlik maak om sulke uitreike te doen.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button