Local newsNews

Vrou droom van ‘n plek van veiligheid vir straatmense

Judith Bines wil graag vir die straatmense 'n plek kry waar hulle veilig kan slaap en higiënies kan lewe. Skakel haar as jy wil help.

Dit breek Judith Bines se hart dat soveel mense in Krugersdorp op straat woon. Met die winter aan die kom wil sy kyk of sy hulle op ‘n ander manier kan help as om bloot kos en klere uit te deel.

Judith en haar oorlede man, Basil, het die Kuobadis-organisasie so om en by 15 jaar gelede gestig juis omdat albei ‘n sagte plek vir die kwesbaarste lede van ons samelewing gehad het.

Sy het verduidelik dat sy deesdae die mense help wat voor die poskantoor in Krugersdorp-Wes slaap. Hulle het blykbaar eers by die tennisbane gebly en toe hulle daar verwilder is, het hulle poskantoor toe getrek.

“Mense wil nie help nie want hulle dink dit is die mense se eie skuld dat hulle op straat beland, daarom moet hulle vir hulself sorg. Ek weet baie van hulle gebruik dwelms maar mens kies nie om daar te bly nie; iets moes met hulle gebeur het om daar te beland,” het sy gesê.

Maar Judith wil nie net meer kos uitdeel nie. Sy het vertel dat die mense in wind en weer leef, dat hulle kwesbaar is, deur misdadigers geteiken word en weggejaag word waar mense hulle nie wil hê nie. Haar plan is om ‘n stuk grond te soek waar die mense saans ten minste agter ‘n hek veilig en rustig kan slaap; êrens waar hulle miskien kan stort sodat hulle meer higiënies kan leef.

Dit is vir haar opvallend dat al hoe meer mense hulself op straat bevind, en sy glo dat baie van hulle miskien net ‘n stootjie in die regte rigting nodig het.

Judith het gesê dat sy nie blind is vir die dinge wat op straat aangaan nie en dat sy verkies om vir die mense ‘n warm maaltyd te gee wat hulle nie kan verkoop nie.

“Dit is my plig om vir ander kos te gee omdat ek weet hoe moeilik die lewe is. Sommiges het kinders, en die oumensies wat so sukkel breek my hart,” het sy gesê.

Sy vra dat mense wat hierdie mense slegsê en oordeel, net vir ‘n oomblik moet dink hoe hulle sou voel as hulle in daardie situasie was.

Maar voor sy die mense kan help om weer hul voete te vind, moet sy eers ‘n veilige plek vir hulle kry waar daar toilet- en stortgeriewe is.
Indien jy vir Judith wil help met haar projek, kan jy haar skakel by 067 107 7069.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button