Local newsNews

Borg ‘n ouma of oupa se maaltye dié maand

Die Robert Palk sentrum vir bejaardes sorg tans vir sowat 150 bejaardes en benodig hulp van die gemeenskap om daarmee te kan voortgaan.

Voor 2020 het die Robert Palk sentrum vir bejaardes sowat 80 besoekers per dag gehad. Hier kon pensioentrekkers saam sit en gesels, speletjies speel, hekel, brei, naaldwerk doen en die belangrikste van alles, ‘n bord warm, smullekker kos in die eetsaal geniet.

Bejaardes is uiters kwesbaar in die Covid-19 tydperk en ekstra sorg moet geneem word om hul gesondheid te verseker. Gevolglik kan hulle nie meer saamkuier in die sentrum nie, maar moet eerder tuis bly.

Alles het natuurlik in Maart verlede jaar verander. Ons was die eerste twee maande gesluit en het net kospakkies uitgedeel; maar ‘n kospakkie is nie ‘n ete nie. Jy kan nie vleis en alles insit nie, en ons kon vir net 50 mense kospakkies gee vir dieselfde bedrag as waarmee ons vir 120 mense kon kosmaak.

“Ons het besef dat hul kragverbruik verhoog het. Hulle is gewoond om hier klaargekookte kos te eet, maar nou moes hulle by die huis kook,” het Mareli de la Hunt, die sentrumbestuurder vertel.

Sy het verder verduidelik dat dit ‘n groter probleem is as wat ‘n mens mag dink, omdat meeste bejaardes van ‘n klein pensioen moet lewe en elke ekstra uitgawe onbekostigbaar kan wees.

Hulle het gevolglik besluit om hul kombuis te heropen en weer kos voor te berei vir hul bejaarde lede. Die bejaardes kon wel steeds nie hul etes in die sentrum geniet en gesellig saam met ander kuier nie, maar die sentrum kon minstens verseker dat hulle elk elke dag iets voedsaam het om te eet.

Sima Methuko berei die dag se kos voor. Foto: Jaco Human.

Hul vier kokke voorsien elke weeksdag sowat 150 etes aan bejaardes in Krugersdorp en 40 in Kagiso. Die kos word net na 10vm met die sentrum se bussie gaan aflewer by dié wat die kos nie self by die sentrum kan gaan haal nie.

Lede betaal tussen R6 en R18 per ete, afhangend van hul inkomste per maand. Dit is wel nie genoeg om al die kostes rondom die projek te dek nie en die sentrum is totaal afhanklik van buiteborge. Mareli het gesê dat hulle geseënd voel om geskenkte groente van plase in die omgewing te ontvang, maar hulle het altyd meer nodig.

Die bestuur van Robert Palk doen gevolglik ‘n beroep op die gemeenskap om hulle met skenkings te help. Enige verbruiksgoedere kan by hul donasiewinkel afgelewer word, en die geld wat die winkel met die verkoop daarvan inbring, word gebruik om die sentrum te bedryf. Kosdonasies kan by die sentrum afgelewer word, en indien iemand nie ‘n groot donasie self kan aflewer nie, kan daar gereël word dat dit afgehaal word.

Betty Zondo maak seker die kombuis blink vir die voorbereiding van môre se etes. Foto: Jaco Human.

Mense kan ook deel word van hul ‘Adopt a granny or grandpa’ projek waar R150 per maand in die sentrum se rekening betaal word om vir ‘n bejaarde se etes te betaal. Enige ander fondse kan ook in hul bankrekening gedeponeer word. Hul bankbesonderhede is:

  • FNB lopende rekening;
  • Rekeningnommer: 5124 209 4509;
  • Takkode: 250241;
  • Verwysing: Adopt a granny or grandpa (vir daardie spesifieke projek).

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Clinton Botha

For more than 4 and a half years, Clinton Botha was a journalist at Roodepoort Record. His articles were regularly published in the Northside Chronicle now known as the Roodepoort Northsider. Clinton is also the editor of Randfontein Herald since July 2020. As a sports fanatic he wormed his way into various "beats - as the media would know it - and admits openly that his big love always have something to do with a scoreboard, crowds and usually a ball that hops.
Back to top button