Laerskool Krugersdorp-Noord doen altyd iets spesiaal om ‘n skoolkwartaal af te sluit. Hierdie kwartaal het hulle hul jaarlikse kaskardag gehou ‘n week voordat die skool vir die vakansie gesluit het.
Verskeie springkastele en waterglybane is op Vrydag, 16 April op die skool se sportveld opgeslaan en kaskarbane is uitgelê voordat leerders in hul klasgroepe op die paviljoen begin aantree het.

‘n Paar weke voor die pretdag is daar vir elke graad ‘n tema gegee, en die leerders het dié oggend met kleurvolle kostuums by die skool opgedaag. Net nadat die musiek begin speel het, het die Graad 1’s om ‘n hoek oorkant die veld verskyn. Hulle was aangetrek soos Lego-blokkies en het gedans voor die res van die skool en die sowat 250 ouers wat op die gronde toegelaat is. So het elke graad ‘n beurt gehad om hul temadans, waarvoor hulle weke lank saam met hul onderwysers geoefen het, voor die skool uit te voer.

Die Graad 2’s was in blou geklee en die dogters het lang gestreepte kouse gedra om hul Bananas in Pyjamas-tema uit te beeld. Die Graad 3’s het naruitrusting vir hul sirkustema gedra. Die Graad 4’s het die kleure van die reënboog uitgebeeld terwyl onderwysers gekleurde rook rondom hulle laat warrel het. Die Graad 5’s het met stokperde en cowboy-uitrustings oor die veld gehardloop en gedans. Graad 6’s het die Lion King-film uitgebeeld, kompleet met ‘n Rafiki wat die jong Simba bokant sy kop gelig het. Die Graad 7’s met hul hula-rompies en stringe blomme om hul nekke was baie tuis in hul tropiese wonderwêreld.

Dit was moeilik om ‘n wenner aan te wys omdat al die grade hul temas so goed uitgebeeld het, en die Graad 3’s en 5’s het uiteindelik met die louere weggestap.
“Die Kaskardag is een van ons grootste fondsinsamelings. Dit is hope pret vir almal. Elke kind het ‘n borgvorm gekry en so geld ingesamel. Ons het ook gekleurde haarsproei, waterballonne en kleurpoeier gebruik om die dag nog meer pret te maak. Almal hou van ‘n bietjie nat en vuil word,” het Quintin Botha, Noordskool se kommunikasieverteenwoordiger vertel.

Die 10 leerders wat die meeste geld ingesamel het, het ‘n uitstappie na Gold Reef City gewen en die top klas het ‘n klaspartytjie gewen

Vanjaar is daar een wenklas in elke graad in die kaskarwedren aangewys, behalwe in Graad 1 waar daar twee wenners was, en elkeen het ‘n wisseltrofee ontvang. Die wenners was Graad 1N en 1P, 2G, 3B, 4H, 5W, 6Q en 7C.
