Groot opheffingsplanne met nuwe huis
Opheffing en bemagtiging is twee woorde waaraan die span van Mercy House in Krugersdorp-Wes glo. Wayne Yeates wat saam met sy vrou, Debbie, aan die stuur is van die Mercy House-projek het vertel dat daar groot dinge vir die gemeenskap en hul organisasie op pad is.
Opheffing en bemagtiging is twee woorde waaraan die span van Mercy House in Krugersdorp-Wes glo. Wayne Yeates wat saam met sy vrou, Debbie, aan die stuur is van die Mercy House-projek het vertel dat daar groot dinge vir die gemeenskap en hul organisasie op pad is.
Wayne het verduidelik dat hy jare lank reeds in die Krugersdorp-omgewing bedien en dat hul organisasie DIA.org (Dissipels in aksie / Disciples in action) onlangs die Mercy House geopen het nadat dit voorheen as die Klein Huis Jerusalem bekend gestaan het.

Die doel van hierdie projek is om die gemeenskap op te hef en te bemagtig, en al die toekomsplanne wat hulle vir dié huis het, is om hierdie konsep gesentreer.
‘n Deel daarvan is die kursusse wat hulle vir vroue van die omgewing aanbied. So ‘n kursus kan strek van vroeë kinderontwikkeling tot konflikhantering. Hy het verduidelik dat hulle die mense in die omgewing goed ken en juis die vroue wil help wat ‘n bietjie hulp nodig het.
Met die mans in gedagte het hulle hande gevat met POPUP (People Upliftment Programme) en daar word vaardigheidsopleiding en -ontwikkeling vir hulle aangebied om hulle te help om werk te kry.

Nog een van hul projekte is die Cards with a Difference. Wayne het verduidelik dat Debbie meestal hierdie kunsvlytklasse behartig. Hulle leer om die ‘kaartjies’ van hout te maak met ‘n mooi boodskap daarop. Die agterkant is ‘n swartbord waarop jy jou spesiale boodskap in wit kryt kan skryf.
Die opbreng van die items wat hulle verkoop word weer in die projek teruggeploeg. Die vroue woon gereeld die kunsvlytklasse by waar hulle dié kaartjies, naambordjies en selfs magnete maak wat by vrouedae of enige ander geleentheid verkoop word.
Een van hulle groot planne is om ‘n kantoor daar te stel waar die inwoners van die omgewing by hulle vir regshulp kan kom aanklop. Wayne het verduidelik dat hulle steeds op soek is na mense wat hulle kan help om om dié regsadvies te gee.
