Gaatjies vir ons maatjies – Kennies
As deel van hul kwartaallikse fondsinsameling het Kenmare 'n suksesvolle gholfdag op Donderdag, 22 April aangebied.
As deel van hul jaarlikse insamelingsprojekte het Laerskool Kenmare saam met van die skool se ondersteuners op ‘n sonnige Donderdag, 22 April gholf gespeel.
Spelers is in pare ingedeel vir die vierbal scramble- (beste bal-) formaat, en daar was ‘n verrassing aan die einde van elke rondte.
Sodra die spelers die setperk bereik het, het ‘n bepaalde ‘reël’ gegeld, byvoorbeeld dat net een speler se telling gebruik moes word, of dat punte van een speler se telling afgetrek moes word.

Sulke reëls het die spel groter pret gemaak omdat daar minder op die streng tradisionele gholfreëls gefokus is. Dit het wel nie die spelers gekeer om ernstig met mekaar te kompeteer nie.
“Dit is net om dit lekker te maak,” het Peter du Toit, Kenmare se sporthoof en kommunikasieverteenwoordiger verduidelik. “Uiteindelik gaan die dag daaroor om bande te smee, en uit die aard van die saak, om fondse in te samel. Dit haal die druk van wen af, selfs met die pryse; daar was mooi pryse, maar die ouens kon self kies watter pryse hulle wou hê. Ons fokus is op deelname en om ook weer terug te gee aan die gemeenskap.”

West Rand Pack het talle pryse vir die dag geborg, onder andere kombuisware, tuingereedskap en braaitoerusting. Die ouers van die Knikkies-voorskool het ook drie koelhouers gevul met alkoholiese drinkgoed geborg.
Peter het vertel dat binne 24 uur nadat die uitnodigings uitgestuur is, die sowat 144 spelerspasies deur ouers en besighede gevul is.

Kenmare het ‘n ruk gelede ‘n niewinsgewende organisasie gestig wat deur ouers van die skool bestuur word, en wat mik om aan ouers en kinders in die gemeenskap bystand te verleen in die Covid-19 tydperk. ‘n Deel van die geld wat met die gholfdag ingesamel is, sal vir hierdie projek gebruik word, terwyl die res gebruik sal word om Kenmare se rekenaar- en robotikasentrum uit te brei. Die skool beplan ook om oor die lang termyn nog klaskamers en ‘n kafeteria by die skool aan te bou.

Die skool sal later vanjaar ook ander fondinsamelingsprojekte aanbied, soos hul Manne-aand, Kaskardag, en Meneer en Mejuffrou Kenmare-kompetisie aangesien baie meer fondse nodig is om al hierdie projekte te finansier.
