NewsSchools

Emosionele afskeid vir Bekker-hoof

Na nege jaar as hoof van Hoërskool Bekker het Adolf Ellis onlangs amptelik sy leerders en personeel gegroet.

Na 16 jaar as deel van die Hoërskool Bekker-familie het die skool se personeel en leerders op Vrydag, 23 April amptelik hul skoolhoof, Adolf Ellis gegroet.

Adolf het die pos as hoof van Hoërskool Pietersburg aanvaar en het vir die afgelope paar weke stelselmatig vir die skool begin totsiens sê.

In 2005 het Adolf by Hoërskool Bekker aangesluit as hul bemarkingsdirekteur en later dieselfde jaar het hy die koshuisvader van die Kuschke-seunskoshuis geword.

Na drie jaar in die pos is hy in 2008 as adjunkhoof aangestel – ‘n pos wat hy vir vier jaar beklee het voordat hy in 2012 tot skoolhoof bevorder is.

In sy roerende afskeidsboodskap het Adolf gesê, “Gedurende my eerste twee weke as hoof hier by Hoërskool Bekker het ek soveel positiewe dinge beleef. Hier was altyd soveel vriendelikheid, hulpvaardigheid, goeie maniere en ondersteuning. Hier is soveel oulike jongmense met soveel potensiaal.”

Hy het bygevoeg dat dit hom hoop vir die toekoms van die skool gegee het en dat hy na nege jaar as hoof kan terugkyk en steeds dieselfde voel.

“Die potensiaal van ons kinders het my keer op keer verras. Ek gaan weg met hoop in my hart vir ons skool en ons kinders.”

Hy het die mense bedank wat die afgelope 16 jaar die pad saam met hom gestap het.

“Dankie vir die goedheid en die guns wat ek kon geniet, die ondersteuning en die onderskraging.”

Adolf het gesê hy was hartseer om sy Bekker-mense te groet maar dat dit ‘n voorreg was om vir so lank by die skool betrokke te kon wees.

“My boodskap aan die leerders is dat hulle nie moet ophou droom nie. Hulle moet droom om eendag self ‘n held vir kinders te wees. My wens vir Bekker is dat julle altyd die pad van die lewe met uitnemendheid sal stap, en mag Bekker se lig altyd skyn en groen toekomsdrome goud maak. Ek is, was en sal altyd ‘n trotse Bekkeriet wees.”

Die News wens Adolf alle sterkte toe met die nuwe avontuur wat vir hom wag.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button