Die leerders van Laerskool Protearif is onlangs met ‘n vertoning deur sanger Ruan Josh bederf.
Ruan Josh is die seun van die bekende Afrikaanse sanger Juanita du Plessis. Hy sing ‘n verskeidenheid genres soos country, pop, Afrikaans en gospel.

Donderdagoggend, 22 April, het hy vir die leerders die gospel-lied, Provider, gesing nadat hy sy eie getuienis gelewer het.
Tershia Nieuwoudt, die hoof se persoonlike assistent het verduidelik dat hulle al die Covid-19 regulasies nagekom het en al moes al die kinders hul maskers dra, kon mens tog die vreugde op hul gesigte sien.
Die skool het ook saam gebid en lekker gedans.
“Leerders asook onderwysers was baie dankbaar vir die onverwagse besoek. Die teenwoordigheid van God se Gees kon gevoel word terwyl Ruan Josh met soveel liefde sing,” het sy gesê.
Tershia het bygevoeg dat hulle graag vir Ruan Josh en sy span bedank vir hul besoek.
