Geslote hekke, ander klagtes by Jack Cotton-tehuis
Inwoners het aan die News bevestig dat die hek vroeg gesluit word en dan kan die sekuriteitswagte in 'n noodgeval nie opgespoor word om dit oop te sluit nie.
Blondie Burger is ‘n inwoner van die Jack Cotton-tehuis. Sy is net soos vele ander inwoners al raadop met die omstandighede waarmee hulle elke dag moet saamleef.
Op Saterdag, 27 Februarie het Blondie se kleindogter oor ‘n hekkie by die tehuis geklim en haarself ernstig beseer toe sy gegly het. Sy het ‘n baie diep sny aan haar been opgedoen en ‘n geroeste deel van die hek het deur haar ken gesteek.
Die 18-jarige het oor die hek geklim omdat die hoofhek van die tehuis reeds teen 9nm gesluit was. Blondie het vertel dat omdat sy bejaard is en nie meer alles vir haarself kan doen nie, besoek haar kleindogter haar gereeld om haar te help.
Ander inwoners het aan die News bevestig dat die hek vroeg gesluit word en dan kan die sekuriteitswagte in ‘n noodgeval nie opgespoor word om dit oop te sluit nie. ‘n Paar maande voor dié voorval het Blondie siek geword en daar is twee-en-’n-halfuur na die wagte gesoek toe haar familie haar dringend hospitaal toe moes neem. Behalwe vir die toegangsprobleme kla inwoners dat die gras nie gesny word nie. Die News het boonop reeds verlede jaar berig dat van die inwoners al jare lank wag dat hul geisers vervang of reggemaak moet word.
Dit voel of ons in ‘n tronk is. Ons is almal normale mense. Ons kom nie uit gestigte nie en ons hoef nie toegesluit te word nie,” het Blondie gesê.
Die News het die Mogale City Munisipaliteit genader oor die inwoners se klagtes. Tefo Kelebonye van die munisipaliteit se Menslike Nedersettings en Vaste Eiendom-afdeling het op die sekuriteitkwessie gereageer.
Hy het verduidelik dat die wagte in diens van Mogale City se publieke veiligheid-afdeling is en dat daar vroeër met die inwoners gereël is dat die hek teen 7nm gesluit sal word en net in ‘n noodgeval oopgesluit sal word.
As gevolg van Covid-19 was dit die aanvaarbare tyd en daar is besluit dat net die hoofhek oopgesluit sou word indien nodig.
Hy het gesê dat daar veiligheidsrisiko’s ontstaan as die inwoners elkeen ‘n sleutel kry, en het bygevoeg dat die rol van die wagte is om toegangsbeheer toe te pas en sekuriteitsfunksies uit te voer. Hulle kan in ‘n noodgeval genader word om die hekke oop te sluit. Henk Spamer van Mogale City se gebou-instandhoudingsafdeling het op die ander kwessies gereageer.
Hy het gesê dat hulle geen klagtes ontvang het van inwoners wat al vyf jaar wag dat hul geisers reggemaak word nie en dat hulle ook nie inwoners so lank sou laat wag het indien dit die geval was nie. Hy het gesê dat inwoners ‘n minimum van R200 huur per maand betaal, en dat instandhouding op die Munispaliteit se koste gedoen word.
Die News moet ook daarop let dat daar baie vandalisme in die huise is omdat daar met elektrisiteit en so meer gepeuter word.”
Hy het verduidelik dat inwoners hul klagtes aan die Nedersettings en Vaste Eiendom-afdeling van die munisipaliteit moet rig. Kelebonye kan gekontak word by 011 668 0635 of per epos by tefo.kelebonye@mogalecity.gov.za. Die behuising is vir bejaardes bedoel en inwoners moet daarvan bewus gemaak word dat dit teen die reëls is dat ander persone by hulle inwoon.
Spamer het gesê dat party inwoners ongelukkig die reël ignoreer en familie nooi om by hulle te woon. Dit veroorsaak dikwels probleme omdat kinders wat skreeu of harde musiek speel die ander bejaardes steur. Hulle het al baie klagtes oor dié tipe gedrag ontvang, en dienslewering word glo ook hierdeur beïnvloed.
Die News het op die Munisipaliteit se terugvoer gereageer deur te verduidelik dat die inwoners kla omdat hulle nie die sekuriteitspersoneel kan opspoor nie, en het die munisipaliteit attent gemaak op ‘n berig wat aan die begin van 2020 verskyn het waarin die instandhoudingskwessies reeds uitgewys is, maar geen terugvoer daaroor van hulle ontvang is nie.
