NewsSchools

‘n Week vol pret vir Bastion se 40e

Hoërskool Bastion het onlangs hul 40e bestaansjaar met 'n week vol pret gevier.

Hoërskool Bastion het onlangs hul 40e bestaansjaar gevier en dit was beslis ‘n groot makietie wat sommer ‘n week lank geduur het.

Die feesvieringe is afgeskop met ‘n manne-aand op Vrydag, 16 April waar groot rugbylegendes soos Toy Dannhauser, Willie Kahts, Thys Lourens en Alex Visser die manne met interessante en hartroerende stories vermaak het. Gaskunstenaar Andries Vermeulen het die gehoor met sy pittige humor vermaak, en Danie van Niekerk en Barney Armstrong het vir die musiek gesorg.

“Die koue aand het beslis nie die gees gedemp nie!” het Amanda de Jager van die skool gesê.

Volgende op die feeslys was ‘n damesoggend wat op Saterdag, 17 April aangebied is. Amanda het vertel dat nagenoeg 185 vroue die glansryke geleentheid saam met hulle geniet het. Behalwe vir ‘n smullekker vonkelwynontbyt het die vroue ook die geleentheid gekry om die bekende Hannon Bothma, of te wel Glam Guru te ontmoet.

Hy het vir hulle meer kom vertel oor haar- en velsorg, en het sommer van die dames uit die gehoor nader getrek om vir hulle ‘n mini makeover te gee.

Marietjie Niemand en Marlinda Lourens.

Die partytjie was nog nie verby nie en Leandie Lombaard Bräsler het vir hulle gesing, gevolg deur drama-onderwyseres Simone Carstens.

Hulle het die dag afgesluit met ‘n motiveringspraatjie deur die bekende Krugersdorpse biokinetikus, Carmen Roberts.

Sondagoggend, 18 April het die leerders, ouers en onderwysers ‘n kerkdiens in die skoolsaal bygewoon wat deur pastoor Zandri Visser gelei is.

“Hierdie gedenkdiens is gehou om die Here te dank vir die 40 jaar wat Hy Hoërskool Bastion geseën het met voorspoed,” het Amanda vertel.

Donderdag, 22 April was ‘n groot dag vir die skool, en ook die afsluiting van die week se feesvieringe. Die oggend het pastoor Zandrie weer ‘n diens vir die leerders gehou en hulle het saam met ‘n sanggroep die Here geloof met sang.

“Die kerkdiens was deel van die week se verrigtinge en om saam met ons leerders en onderwysers vir die Here dankie te sê vir Bastion se 40-jarige bestaan.”

Marietjie en André Muller.

Later die dag is toekomstige Bastionners bederf met ‘n pretdag. Al die Graad 7’s van die omliggende laerskole is uitgenooi om te gaan partytjie hou.

Die vieringe is Donderdagaand met die Gala-aand afgesluit. Amanda het vertel dat die oud-Bastionners bedank is vir die veilige hawe wat hulle vir leerders in die omgewing geskep het, en dat hulle hulde gebring het aan al die leerders, personeel en ouers wat die afgelope 40 jaar by die skool betrokke was en sommige steeds is.

Taslhea Raaths en Ingrid van Wyk.

Na toesprake deur die skoolhoof, Gert Koekemoer, die nuwe beheerliggaamvoorsitter, Mike Combrink en optredes deur hui-dige en oudleerders is ‘n lekker ete voorgesit terwyl Danie en Barney weer musiek gemaak het.

Gert het die mense wat by die aktiwiteite betrokke was, die borge, die ondersteuners, die oud-Bastionners en die personeel bedank vir hul bydraes.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button