Proties vier Hemelvaartdag met lofsang
Riana Mouton en Krokkie die Krokkodil het vir Laerskool Protearif gaan kuier.om Hemelvaartdag spesiaal te maak.
Proties het hierdie jaar Hemelvaart op ‘n baie spesiale manier gevier toe hulle op Donderdag, 13 Mei, lekker saam met Krokkie en Riana Mouton kon kuier.
Ilse Breedt, ‘n onderwyser by die skool het verduidelik dat Krokkie die Krokkodil en Riana kom kuier het omdat hulle iets spesiaal vir die kinders wou doen.
“Met al hierdie Covid-19 protokolle het die kinders lanklaas die geleentheid gekry om ‘n bietjie lofsang te doen,” het sy gesê. Die kinders kon toe saam met Riana en Krokkie hul harte uitsing vir die Here.

Die leerders is in twee groepe ingedeel om te verseker dat daar genoeg spasie tussen hulle was, en die kleuters tot Graad 3 kon eerste vir Krokkie ontmoet.
Ilse het verduidelik dat die boodskap vir die Graad 4’s tot 7’s aangepas is omdat hulle ‘n bietjie ouer is. So het elke kind die boodskap op ‘n pretige manier ontvang.
“Dit is altyd lekker vir die kinders as iemand van buite af kom kuier; iemand wat hulle nie elke dag sien nie,” het Ilse laggend vertel.
Sy het verduidelik dat Laerskool Protearif ‘n Christen-skool is waar hulle die kinders wil wys hulle is lief vir die Here en wil oplei in hul Christenskap, maar elke leerder kon ook kies of hulle die diens wou bywoon. Net om die dag ekstra lekker te maak kon almal in wit hemde en blou denims skool toe dra.
