Kleuterskool vier Gabby se leweroorplanting-herdenking
Die leerders van die Heart and Soul-kleuterskool het onlangs saam met Gabby die twee jaar herdenking van haar leweroorplanting gevier.
Die Heart and Soul-kleuterskool het onlangs Gabby Robertson se twee jaar herdenking van haar leweroorplanting gevier.
Gabby se ouers, Darrel Robertson en Hester Foxcroft het besluit om die leerders van dié klein skooltjie ‘n bietjie te gaan bederf.
Die skoolhoof, Estelle Opperman het verduidelik dat hul kleuterskool nie skoolfonds vra nie en heeltemal op donasies staatmaak.
“Ons werk elke dag op God se genade en elke dag is daar kos,” het sy gesê.
Sy het verduidelik dat die 42 voor- en naskoolleerders se ouers nie kan bekostig om hul kinders in ander skole te plaas nie en sy help hulle al 12 jaar op dié manier.
Die kinders by die skool is tussen die ouderdom van twee en 12 jaar, maar behalwe vir ‘n veilige hawe, maak die onderwysers ook seker dat elke kind dit het wat hulle nodig het – hetsy tandepasta vir by die huis, of klere vir die winter.

Maar omdat die skool afhanklik is van donasies het hulle altyd hulp nodig, des te meer nadat hul donateur van die afgelope twee jaar onttrek het. Estelle het verduidelik dat hulle geld nodig het vir water, ligte en die huur van die skool.
Phillip Schutte, een van die skool se direkteure, het ook verduidelik dat hulle geld nodig het om seker te maak dat die kinders by dokters, tandartse ensovoorts uitkom.
Baie van die kinders se huislike omstandighede is ook nie van die beste nie, en Phillip het vertel dat sommige kinders sielkundige berading moet kry.

Hulle beoog om met ‘n Borg ‘n Kind-projek te begin waar borge in die gemeenskap kan geld skenk om ‘n kind skool toe te stuur.
Saterdag, 8 Mei, was egter ‘n spasiale dag vir die kinders en daar was vetkoek, koeldrank, ‘n geskenk vir elkeen, kolwyntjies, worsbroodjies, ‘n springkasteel, ‘n pakkie klere vir elke kind, en ‘n poppekas om die dag spesiaal te maak.
Marina Ruthven en Chantelle Coetzee van die Raddai Sorgsentrum het saam met Lienkie, die pop, die kinders kom vermaak.
