Laerskool Kenmare betree hierdie kwartaal ‘n onbekende terrein ten opsigte van sy akademiese onderrig. Die skool doen dit aangesien daar deesdae al hoe meer van die vierde industriële revolusie gepraat word, en skole al hoe meer aangemoedig word om nuwe vakke deel van hul kurrikulum te maak wat kennis van moderne tegnologie sal bevorder.
Die digitale wêreld speel ‘n al hoe belangriker rol in ons daaglikse lewens. Digitale tegnologie speel ‘n toenemend groter rol in die produksieproses van verbruiksgoedere, terwyl daar ‘n groter vraag na geskoolde werkers ontstaan.

Met die oog op hierdie ontwikkeling begin Kenmare om Kodering en Robotika as vak in te faseer deur dit vir die Graad 1’s tot 3’s aan te bied, en dit volgende jaar na die Graad 4’s uit te brei.
“Mens moet bybly met ontwikkelings,” het vakonderwyser Liezel Muller verduidelik. “Mens kan nie meer net dink dat jou kinders dokters en prokureurs kan word nie. Daar is beroepe wat vereis dat mens voor die rekenaar sit en kodes intik om robotte te laat werk. Dis ook nie net vir die ontwikkeling van die robotte nie, dit is vir die ontwikkeling van die kinders. Dit is uiteindelik ons doel – om beter kinders te ontwikkel vir die samelewing.”
Leerders gebruik tans Blue-Bots, wat baie basiese robotte is, effens groter as ‘n volwassene se hand en gemaak is om soos ‘n vriendelike muis te lyk. Aanwysings word op die Blue-Bot ingevoer deur die invoerknoppies op sy rug.

“Dis nie ‘n kwessie van druk vorentoe, ‘go’, vorentoe, ‘go’ nie. Hulle moet sy hele roete, wat hy op ‘n mat met blokke moet volg, vooraf beplan. Dit is ‘n kode op sigself in sy eenvoudigste vorm. Later gaan ons hierop bou en ander robotte hê, naamliks die Micro:Bits, wat soos ‘n ‘chipset’ is wat in jou rekenaar met Python, JavaScript (rekenaarprogrammeertale) ensovoorts gekodeer word. Hulle speel nie net met die robotte nie; hulle doen regte kodering,” het Liezel verder verduidelik.
Liezel het spesiale onderrig ondergaan by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum, en kursusse bygewoon by DevTech wat die skool raad gee oor die tipes robotte en kodering wat vir elke vlak toepaslik sal wees.
Kodering en Robotika is uiteraard nog ‘n baie jong vak, en daar is nie baie skole wat dit al kan aanbied nie.
“Ek dink dit is vir die kinders baie opwindend om ‘n vak te hê waarin hulle kan pret hê en saam werk. Hulle kan by mekaar leer en saam ‘n dinkstrum aanwend om probleme op te los. Dis vir hulle ‘n nuwe manier van leer en nie dieselfde as om ‘n boek oop te maak en te leer nie,” Liezel het laastens gesê.
