Paartjie moes te vroeg hul baba groet
Hulle het reggemaak vir hul dogtertjie maar moes haar groet nog voor hulle haar kon ontmoet.
Jean-Mari Bester en Pieter Taljaard het reggemaak om ‘n babadogtertjie te verwelkom, maar toe moes hulle haar groet. Die paartjie wil by die hospitaal antwoorde hê.
Die 32-jarige Jean-Mari het vertel hoe bly hulle was toe hulle in Desember 2020 uitgevind het sy is swanger, maar die swangerskap is as ‘n hoë risiko beskou omdat sy voorheen miskrame gehad het.
In Januarie is sy dokter toe weens komplikasies, en ‘n dokter van die Leratong Hospitaal het glo vir haar ‘n cerclage, oftewel ‘n servikale steek, ingesit wat verhoed dat die baba vroeg gebore word.
Dit het ‘n tyd lank goed gegaan, maar is op Vrydag, 23 April is hulle terug Leratong toe omdat sy erge maagpyn ervaar het.
Die sonar het niks abnormaal getoon nie, en sy is huis toe gestuur. Toe haar water die Saterdag breek is hulle terug hospitaal toe.
Sy het vertel dat sy van 10nm tot 2vm gewag het om vir observasie opgeneem te word. In die saal is sy medisyne toegedien wat penisillien bevat, ten spyte van die aantekening in haar lêer dat sy daarvoor allergies is.
Die Sondag het dokters vir haar gesê dat sy te min vrugwater het en het glo gesê sy moes besluit of sy haar baba wou laat afbring.
“Ek het gesê dat ek dit eers met my verloofde en my familie wou bespreek omdat ek nie so ‘n besluit alleen wou neem nie.”
Sy is weer huis toe, maar is die volgende dag weer inderhaas hospitaal toe – dié keer na die Rahima Moosa Mother and Child-hospitaal. Daar het ‘n ginekeloog haar glo ingelig dat die steek wat hulle in Januarie ingesit het, uitgekom het en dat dit gelyk het of daar infeksie was.
Die paartjie is terug Leratong toe waar sy in kraam in gegaan het. Daar is vir haar gesê dat haar baba brug gelê het, en toe die dokter die baba wou draai, het sy glo vir hom gesê dat dit seer was.
Die dokter het toe glo gesê dat hy eers gaan eet en haar sou help as hy terugkom, maar toe hy volgens Jean-Mari na ongeveer ‘n halfuur terugkom was die babatjie reeds gebore. Die dokter het glo toe die babatjie vir haar gewys. Sy het maar net 570g geweeg, en is gebore ‘n dag voor Jean-Mari ses maande swanger sou wees.
Dit was volgens haar die laaste keer dat sy die dokter gesien het, maar sy is dankbaar teenoor die verpleegster wat haar gehelp het en wat kom kyk het hoe dit met haar gaan.
Sy is toe glo nog ‘n dosis van die verkeerde antibiotika toegedien wat ‘n hewige veluitslag veroorsaak het.
Die paartjie het blykbaar ‘n ontmoeting met die hospitaalbestuur gehad. “Hulle het net gesê hulle is baie jammer oor die kind, maar hulle kan niks aan die saak doen nie. Hulle sal wel ‘n interne ondersoek doen, en as die betrokke personeel nie voldoende opgelei is nie, sal hulle die nodige opleiding verskaf; en as dit mediese nalatigheid is dan sal hulle verdere stappe neem. As die dokter nie behoorlik opgelei is nie, wat soek hy daar?” het Pieter gesê.
Die paartjie sukkel om die verlies van hul baba te verwerk, en om dinge te vererger kon hulle nie hul baba laat begrawe nie omdat sy minder as 1kg geweeg het.
Die News het die hospitaal genader vir kommentaar.
