Local newsNews

So kan jy bejaardes help wat sukkel

Febe von Wielligh van die Emanuel Bejaarde Tehuis vertel dat sommige bejaardes die maand finansieel net-net deurmaak. Hulle het 'n projek geloods om hierdie mense te help.

Die Emanuel Bejaarde Tehuis het onlangs ‘n nuwe projek van stapel gestuur, een waarmee hulle hoop om meer bejaardes te help.

Volgens Febe von Wielligh van die tehuis het hulle die Caring4elders-projek geloods om bejaardes by te staan wat finansieel sukkel. Sy het vertel hoe hulle elke maand sien hoe dinge duurder word.

“Baie bejaardes kan nie eers hulle noodsaaklike items vir die maand aankoop nie. Met Covid-19 het baie bejaardes se kinders hul werk verloor, of hul salarisse is verminder, daarom kan hulle nie meer hul ouers ondersteun nie. Ander het weer geen kinders of familie wat hulle kan ondersteun nie.”

Maar die projek gaan nie net vir hulle oor finansiële hulp nie maar om tyd en aandag aan die bejaardes te bestee.

“Dit is in ons harte om bejaardes se laaste tydjie gemakliker, kommervry en vol liefde te maak, maar ons het beslis hulp nodig.”

Hulle nooi gemeenskapslede om op verskeie maniere by die projek betrokke te raak – deur geld te skenk; items te koop en te gaan aflaai; of ‘n bejaarde ‘aan te neem’ en vir hulle te voorsien. Net ‘n besoek sal ook baie help.

Sy het vertel van al die uitgawes wat die bejaardes het, soos hul huurgeld, medikasie en ander maandelikse benodighede.

“Die staat verskaf nie meer al die medikasie nie, en hulle moet noodgedwonge hul medikasie self koop. Dit is ‘n baie groot uitgawe.”

Nog ‘n uitgawe is vir doeke, aangesien van die bejaardes twee tot drie ‘n dag gebruik. Dan is daar dokters en spesialiste wat betaal moet word, asook hulle maandelikse benodighede en miskien ‘n bederfie.

Wanneer mens die uitgawes in ag neem is dit skrikwekkend om te dink dat 95 persent van die bejaardes by Emanuel net ‘n SASSA-pensioen kry, en dat 75 persent van die geld gebruik word om huurgeld te betaal.

Febe het vertel dat die bejaardes baie bekommernisse het. Selfs al sukkel hulle self, is hulle bekommerd oor hul kinders, hul finansies en hul gesondheid.

“Bejaardes is baie speiaal en ek dink jongmense moet begin bewus raak van bejaardes ook en waaroor bejaardheid gaan. Fisiek, geestelik en emosioneel moet daar meer aandag aan hulle gegee word. Baie van ons bejaardes sien nooit hul kinders nie. Hulle woon óf te ver, óf het nie geld nie, óf hulle het hul ouers net afgeskryf.”

Uit die tehuis se 140 inwoners is 55 in die eenheid vir verswaktes en dit, het Febe vertel, is waar die uitgawes hoog raak.

Hulle nooi almal asook besighede uit om by hul projek betrokke te raak. Indien hulle genoeg ondersteuning kry wil hulle hierdie projek ook na ander tehuise uitbrei.

• Navrae: Kontank vir Febe by 082 771 2047 of epos haar by caring4elders@srvb.co.za.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button