Local newsNews

Hoop vir bejaardes van Vergeet-My-Nie-afdeling

Inwoners van Môreglans se demensie-afdeling geniet gereeld stimulerende aktiwiteite om hul aktief te hou en te help onthou.

Ouer word is ‘n natuurlike deel van elke mens se lewe en almal wil graag daardie fase met grasie betree.

Dit is ‘n tyd om te ontspan, en om die lewe en die wêreld te waardeer. By SAVF Môreglans tehuis vir bejaardes word daar daagliks met fyn sorg addisionele stappe geneem om bejaardes gelukkig te hou, veral in die tehuis se demensie-afdeling.

Demensie is die oorhoofse term wat Môreglans gebruik vir talle ouderdomverwante geheue-gesondheidstoestande, waarvan Alzheimer se Siekte die algemeenste voorkom. Hul demensie-afdeling word Vergeet-My-Nie genoem wat dui op hul doel om inwoners te help onthou, en ook verwys na die kleurryke blomme met dieselfde naam.

Judie Minnie geniet haar tyd in die aktiwiteitskamer. Foto: Jaco Human.

Kleur is veral belangrik in die Vergeet-My-Nie-saal, omdat die sintuie van sig, gehoor, smaak, reuk en gevoel belangrik is om herinnering by die bejaardes te ontlok.

Die inwoners gaan elke dag na ‘n aktiwiteitskamer toe waar al hierdie sintuie gestimuleer word deur verskeie aktiwiteite saam met Môreglans se maatskaplike werker Hanri Rossouw en vrywilliger en professionele terapeut Corlezé Strydom te doen.

Voor hulle by die aktiwiteitskamer kan ingaan, gaan staan die bejaardes eers in die gang voor ‘n muur. Prente teen die muur dui op sekere aksies wat hulle moet doen, soos om te glimlag, hande te klap en te ‘high five’. Hulle stap van die een prent na die ander en doen die verskillende ‘opdragte’ om te help om hul brein aktief te kry.

Terapeut Corlezé Strydom help Vergeet-My-Nie inwoner Elsa Rosser. Foto: Jaco Human.

Op Vrydag, 21 Mei het sewe bejaardes in die aktiwiteitskamer bottels met gekleurde vloeistowwe gevul en die buitekante versier sodat die sig- en gevoelsintuie gestimuleer kan word.

Môreglans het ook ‘n kleurvolle sensoriese tuin met talle items om die sintuie te prikkel. “Die meeste bejaardes ly aan demensie soos hulle ouer raak. Jy gebruik dan dikwels sintuie – wat jy sien, ruik, proe, voel en hoor om weer dinge te onthou. Dit is hoekom ons hierdie tuin het. Hier is baie goed wat beweeg wat hulle weer skerp maak. Daar is byvoorbeeld vlaggies en water wat loop, en hulle dink dalk aan die tye toe hulle as kinders in die plaasdam geswem het. Ons wil hulle graag ook uitneem, want baie van hulle word in ‘n inrigting geplaas en kom nie meer uit nie,” het Janine van der Berg, ‘n gereelde vrywilliger by Môreglans vertel. “Dis eintlik lekker om met hulle te werk. Daar is baie keer oomblikke wanneer hulle weer in die hier en nou is.”

Daniel Matikge geniet sy oggend saam met ‘n paar voëls by Vergeet-My-Nie. Foto: Jaco Human.

Hanri het verduidelik, “Omdat ons baie kunsaktiwiteite doen, het ons gewoonlik balle en kunsvlytitems nodig. Enigiets help eintlik. Dis ongelooflik hoe iets wat jy nie as nuttig beskou nie, hulle aan iets kan herinner. Ons wil graag vir die ooms ‘n sensoriese bord maak met knippe, slotte en ander gereedskap.” Hanri het verduidelik dat enige donasies – geld of items – handig te pas sal kom.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button