Nuwe gebou vir ‘n nuwe gemeente
Die nuwe Jerigo Oorlewingsgemeente is maar net 'n paar maande oud en moes alreeds na 'n groter gebou toe trek. Hulle het onlangs hul nuwe gebou bekend gestel.
‘n Trotse pastoor André Ludick het onlangs saam met sy gemeente die opening van hul nuwe kerkgebou gevier.
Op Saterdag, 22 Mei, het die lede van die Jerigo Oorwinningsgemeente saam gekuier toe hulle hul nuwe kerkgebou by Hanekomweg 62 in Noordheuwel geopen het.
“Die Pinkster Protestante Kerk (PPK) was eers in Krugersdorp-Wes maar die gemeente het doodgeloop. Ek het dikwels daar verby gery en vir die Here gesê ek wil daardie gemeente hê,” het André vertel.
Twaalf jaar gelede is hy as pastoor van die PPK bevestig en in 2020 het hy die beroep gekry om die PPK Krugersdorp te laat herleef. Op 4 Oktober 2020 stig hulle toe die gemeente in Bellstraat, maar die spasie het vinnig te klein geraak vir al die lede en dit is waarom hulle na die nuwe gebou toe getrek het.
“Die Here het dit so bewerkstellig dat ons die gebou by Curro kon koop.”
André het verduidelik dat hulle ‘n groot, standvastige en jong gemeente het, en dat 80 persent van hul lede tussen 30 en 40 jaar oud is.
“Ek het sewe jaar gewag vir my gemeente, en sewe maande later het ons ons eie gebou,” het hy laggend vertel en bygevoeg dat die Here beslis sy hand hierin het.
Die lede het die opening gevier deur piekniek te hou waartydens hulle hamburgers gebraai, lofliedere gesing en net lekker saam gekuier het.
“Die Here het vir my ‘n belofte gegee uit Job 8 vers 7: ‘met min sal jy begin met baie sal jy eindig’ en dit is nou so waar. Die belofte loop nog altyd saam met my, en nou ook saam met ons gemeente.”
