Gehoorgestremde kry skielik nie meer SASSA-toelae nie
Jacobus du Preez het jare lank 'n SASSA-toelae gekry maar twee jaar gelede is sy aansoek skielik sonder rede afgekeur.
Jacobus du Preez word nou al twee jaar lank van bakboord na stuurboord gestuur net om weer sy SASSA-geld te kan kry.
Die 51-jarige Jacobus het vertel dat toe sy mangels as kind verwyder is het dit weens komplikasies gehoor- en sigprobleme veroorsaak. Hy het al dreineringspypies in sy ore laat plaas en ook gehoorapparate gehad, wat nie vir hom gewerk nie. Hy het maar net 25 persent gehoor in beide ore.
“As iemand so vyf tot ses tree agter my praat kan ek hulle nie hoor nie,” het hy gesê en bygevoeg dat hy al goed kan lippe lees.
Hierdie gebrek het veroorsaak dat hy nie regtig kon werk nie en hy ontvang al van die ouderdom van 16 af elke maand ‘n SASSA-toelae – tot twee jaar gelede …
Sedert hy 16 was word Jacobus se mediese toestand elke drie jaar hersien. Dit behels dat hy bepaalde vorms moet invul en doktersverslae moet kry wat dan moet voorlê. Twee jaar gelede, toe sy saak hersien is, is Jacobus se aansoek afgekeur. Hy het sedertdien sy aansoek oor en oor ingedien, net om elke keer weer afgekeur te word.
Hy weet nie hoekom die aansoek afgekeur word nie omdat daar nie vir hom redes gegee word nie.
Hy het verduidelik dat die Suiderlig-gemeente hom help deur vir hom ‘n blyplekkie te huur en elke maand vir hom ‘n kospakkie te skenk omdat hy nou nie meer ‘n inkomste het nie. Wanneer daar genoeg is kry hy ook ‘n kospakkie by ‘die welsyn’ maar daar is nie altyd genoeg nie.
Jacobus het hom uit desperaatheid tot die News gewend en om hulp gevra. Die News het kontak gemaak met SASSA, en Nandi Mosia, die senior bestuurder vir kommunikasie het terugvoer gegee.
************************************************************
Sy het verduidelik dat ‘n persoon met gedeeltelike gehoorgestremdheid nie in aanmerking kom vir ‘n Ongeskiktheidstoelaag nie.
Mosia het gesê dat Jacobus in 2019 reeds drie keer teen die uitslag van die mediese hersiening appèl aangeteken het en dat al drie onsuksesvol was.
In ‘n brief aan Sassa het die Departement van Gesondheid blykbaar aangedui dat hulle Jacobus van gehoorapparate voorsien het. Jacobus het ook aan die News erken dat hy die apparate ontvang het maar dat hy dit vir sy suster gegee het omdat haar gehoor glo swakker as syne is.
Mosia het verduidelik dat ‘n nuwe regulasie vereis dat persone wat lank reeds ‘n Ongeskiktheidstoelaag ontvang het, se sake hersien moes word om te bepaal of hulle steeds vir die toelaag kwalifiseer, en of hul mediese toestand verbeter het.
Sy het gesê dat wanneer ‘n aansoek om ‘n Ongeskiktheidstoelaag afgekeur word, die betrokke persoon aansoek kan doen dat Sassa die aansoek heroorweeg. Hierdie aansoek moet binne 90 dae sedert die ontvangs van die hersieningsuitslag ingedien word.
