Elf vroue deur WAS Foundation bederf
Elf vroue uit die gemeenskap het onlangs 'n bederfdag geniet wat die WAS Foundation moontlik gemaak het. Elkeen het met 'n nuwe voorkoms weggestap.
Enigiemand hou van ‘n lekker bederf, en dit het onlangs 11 gelukkige vroue in die gemeenskap vir Moedersdag te beurt geval.
Op Sondag, 15 Mei het die vroue die geleentheid gekry om hul hare en grimering te laat doen en om ‘n nuwe uitrusting te kry as deel van ‘n oormaaksessie. Hulle het ook elkeen ‘n handbehandeling gekry, hul naels is geverf en hulle het ‘n koppie warm sop en Moedersdagkoekie ontvang.

Nadine van Staden, Mev Krugersdorp 2020, het vertel dat die vrywilligers van die We’re Against Hunger (WAS) Foundation graag ‘n paar vroue in die gemeenskap met ‘n spadag wou bederf. Hulle het toe die vroue gevra om vir hulle ‘n brief te skryf en te vertel hoekom hulle ‘n oormaaksessie verdien.
Hulle sou oorspronklik net drie vroue vir die bederfsessie kies, maar toe die stigter van die WAS Foundation, Esmarelda van Zyl, die inskrywings sien, het sy sommer vinnig besef dat hulle nie net drie kan kies nie, en toe sommer al die vroue gekies. Hulle wou boonop twee van hul vrywilligers insluit om vir die twee vroue dankie te sê vir hul harde werk.
“Die vroue het dit vreeslik geniet; die boodskappe van dankbaarheid wat na die dag deurgekom het was hartroerend,” het Nadine gesê. Sy het veral opgemerk hoe opgewonde die 11 vroue was oor hul bederf, en dat hul nuwe voorkoms sommer vir hulle nuwe selfvertroue gegee het.
Sy het vertel dat dae soos dié veral belangrik was omdat die vroue in die gemeenskap pragtig en uniek is en alles in hul vermoë doen om vir hul families te sorg, sodat hulle dan nie altyd na hulself kyk nie.
“Ek voel hierdie oormaaksessie en spadag het die dames weer hoop gegee en laat voel dat elkeen van hulle ‘n doel het, en dat hulle verdien om mooi te lyk want hulle is dit beslis werd.”

Esmerelda het gesê dat so ‘n dag glad nie moontlik sou gewees het as dit nie was vir hul hardwerkende WAS-vrywilligers, van wie sommiges al die pad van die Vrystaat af gekom het om te kom help bederf nie.
“Daar was soveel liefde, vrygewigheid en omgee te sien by elke persoon wat daar was, en dit is wat die WAS Foundation een van die toporganisasies maak. Almal is trots op die werk wat ons doen en die verskil wat ons maak in die gemeenskap,” het Esmerelda gesê.

Nadine bedank graag almal wat ‘n hand bygesit het, hetsy met haarversorging, grimering, die insameling van donasies en enigiets anders wat die dag so besonders gemaak het. Sonder die mense met die mooi harte sou die dag nie so ‘n sukses gewees het nie.
“Die dag was ‘n reusesukses, en ek glo dit sal beslis weer gedoen word om die dames van ons gemeenskap te herinner dat hulle dit wêrd is.”
