Robotarm ofte nie, Ivano is bly
Na jare word Ivano se droom bewaarheid en sal hy binnekort 'n prostetiese arm kry.
Ivano Engelbrecht gaan uiteindelik sy prostetiese arm kry. Dit mag dalk nie die robotarm wees waarvan hy gedroom het nie, maar hy is steeds baie opgewonde.
Die vriendelike 11-jarige seun is gebore met net een arm. Die ander arm het wel twee vingers en spiere maar die been het nie gegroei nie en daar is ‘n knop in sy skouer.
Van kleintyd af droom Ivano om ‘n robotarm te hê wat hom kan help om die dinge te doen wat hy nou nie kan nie. In 2020 het hy aan die News vertel hoe hy soms sukkel met net die een arm en hoe mense anders na hom kyk.
Hy het vertel dat kinders kanse vat en hom stamp as hulle speel, en hoe hy sukkel om sy tas te dra, sy boeke vas te hou terwyl hy skryf, en selfs dinge te dra of weg te pak.
Ivano se ma, Natasha, het vertel dat die druk wat op sy rug geplaas word omdat Ivano net die een arm kan gebruik rugprobleme veroorsaak het.
Die familie het oorspronklik ‘n kwotasie gekry vir ‘n robotarm wat hulle R482 000 uit die sak sou jaag, maar weens die erns van die mediese implikasies het hulle besluit om die goedkoper prostetiese arm te kry. Die realistiese prostese kos egter steeds R83 000.
Ivano wil net ‘n arm hê en wil nie meer hê dat sy klere so los aan sy lyf hang nie. Die arm gaan ook die balans tussen die twee kante van sy lyf reguleer en dus die druk op sy rug verminder.
Al kos hierdie tweede arm aansienlik minder, het sy enkelma steeds die geld nodig om dit te bekom. Hulle het reeds die meeste van die geld ingesamel, en die Ray of Hope-organisasie het ‘n groot donasie van R70 000 gemaak. Daar is nog so ‘n paar rand uitstaande vir die prostese, en dan kom daar nog kostes vir fisioterapeute en doktersafsprake by. Die familie het nog om en by R20 000 nodig.
Die span van Ray of Hope het ook met Delifoods in Commissionerstraat gereël om elke Saterdag kolwyntjies daar te verkoop om die oorblywende geld in te samel.
Nou gaan ek my boek kan vashou en help om goed te dra,” het Ivano vertel.
Hy het gesê dat sedert hy die vorige keer met die News gesels het, is hy nog net so lief vir Lego’s en hy doen nou ook skopboks. Hy speel flank vir sy rugbyspan en is selfs een van die top tien in sy graad met ‘n gemiddeld van 92 persent vir Wiskunde.
Natasha bedank graag almal wat geld geskenk het, en ook die wat help om Ivano se droom te bewaarheid.
• Navrae: Kontak Natasha by 010 035 5210 of 010 035 5214.
