Organisasie se wiele gesteel
'n Plaaslike organisasie wat vir kinders middagetes voorsien het, kan dit nie meer doen omdat hul voertuig gesteel is.
Elke oggend het die span van Noah’s Ark hul voertuig vol kosblikke gepak wat hulle dan by ‘n plaaslike skool gaan aflaai het. Hierdie kosblikke het verseker dat minderbevoorregte kinders elke dag ‘n ordentlike ete kry. Maar ongelukkig kan dié organisasie nie meer hierdie diens lewer nie.
Op 28 Mei is die organisasie se wit Nissan Sentra voor hul huis gesteel. Volgens Frans van der Berg-Pretorius het hulle die voertuig gebruik om hul organisasie se werk te doen, soos om kos en donasies op en af te laai.
Ons is basies gestrand. Al die koeldranke en donasies staan nou net hier,” het hy gesê.
Frans se ID en rybewys was ook in die voertuig saam met die kosblikke waarin hulle elke dag die kinders se middagete gepak het.
Willem van der Berg-Pretorius, ‘n ander lid van die Noah’s Ark-span het verduidelik dat die voertuig buite hul huis gestaan het en toe hulle die middag uitkom was hy weg. Hulle het die saak by die polisie aangemeld maar Willem het verduidelik dat hulle nie versekering het nie en nie sonder ‘n voertuig sal kan werk nie.
Indien iemand hulle kan help met ‘n voertuig sodat hulle weer vir die kinders kos skool toe kan neem, sal dit baie help.
Willem het ook vertel dat hulle gehoor het dat daar iemand is wat voorgee om donasies namens hulle in te samel. Hy doen ‘n beroep op diegene wat hul organisasie wil ondersteun om met hom of Frans daaroor te praat.
Die nommers waarby hulle gekontak kan word is 067 078 1881, 068 351 0845 of 065 842 7845.
