Laerskool Krugersdorp-Noord het na afloop van konsultasie met die Departemente van Gesondheid en van Onderwys besluit om die skool vir sowat ‘n week en ‘n half te sluit.
Gerhard Myburgh, Noordskool se adjunkhoof het die situasie so aan ouers verduidelik. “Ons het tans agt personeellede wat geaffekteer word en in selfisolasie/ kwarantyn is. Let asseblief daarop dat almal nie positiewe gevalle is nie, maar dat van die persone wel in aanraking was [met vermoedelik Covid-19 gevalle]”.
Steve Mabona, mediawoordvoerder van die Departement van Onderwys het bevestig dat ses onderwysers en twee administratiewe personeellede tans in selfisolasie is. “Skoolsluitings word gedoen op aanbeveling van die Departement van Gesondheid nadat die nodige assesserings uitgevoer is. Dit is van toepassing op alle skole.”
Dit is belangrik om daarop te let dat Noordskool nie gesluit is as gevolg van vrese rondom Covid-19 gevalle nie, maar eerder omdat die skoolbestuur en beheerliggaam meen dat hulle nie teen ‘n verlaagde kapasiteit vir leerders kan skoolgee op die vlak wat hulle verdien nie.
“As gevolg van die getal personeel wat tans nie hul pligte kan uitvoer nie is daar ‘n tekort aan genoegsame personeel om die funksionaliteit van die skool te verseker,” het Myburgh verder gesê. “Dit gee personeel genoegsame tyd om te isoleer en weer hul pligte te hervat. Dit is vir almal ongerieflik, maar ons leerders en personeel se veiligheid bly ons hoogste prioriteit.”
Noordskool heropen op Maandag, 21 Junie.
Mabona het ook genoem dat Hoërskool Bastion, Hoërskool Jan de Klerk en Silverfields Primary tans gesluit is.
