Local newsNews

Pret en krag vir liefdadigheid

Sterk manne en vroue het onlangs kragte gemeet en terselfdertyd twee organisasies gehelp met broodnodige donasies.

Sterk manne en vroue het onlangs kragte gemeet en terselfdertyd twee organisasies gehelp met broodnodige donasies.

Op Saterdag, 5 Junie, het die spanne van Supreme Being Fitness, Toyota Fanatics en AfriForum ‘n sterkmandag by die Noordheuwel-winkelsentrum gehou om in die proses donasies te kry vir twee organisasies wat na kinders omsien.

Die organisasies, albei kinder- en jeugsorgsentrums, is die plaaslike Bethany House, en die Gracia-kinderhuis in Pretoria.

Franco van der Westhuizen trek die bakkie.

Verskeie aktiwiteite is op die koue oggend aangebied en die toeskouers is ook aangemoedig om deel te neem aan die ‘farmers walk’ en ‘tyre flip’.

Teen 11:00 toe almal lekker opgewarm was het hulle beurte gemaak om te kyk wie ‘n 3 200kg Ford-bakkie die vinnigste kon trek. Van die deelnemers was so jonk as 15, en mans en vroue het beurte gemaak om die bakkie te trek.

Franco van der Westhuizen het met die idee vorendag gekom om die bakkie te trek en vir Izak Groenewald, die eienaar van die gimnasium vertel dat hy dit vir liefdadigheid wou doen. Die idee het vlam gevat en dit het vinnig ‘n liefdadigheidsdag geword.

Die 15-jarige Jordan Malan sleep die bakkie.

Izak het vertel dat hy en sy vrou Jacqueline jare lank al probeer om een keer ‘n jaar ‘n organisasie te ondersteun en tydens die inperking kon hulle dit nie doen nie. Hierdie was weer hul geleentheid om te help teruggee.

Deelnemers en ondersteuners het in die aanloop tot die dag reeds geld, klere, speelgoed en kos begin insamel, en Izak het trots vir die News gewys hoeveel donasies hulle ontvang het.

Hy het vertel dat die span die geld sou gebruik om vir die organisasies kruideniersware te gaan koop en dat Bethany House aangedui het dat hulle veral magarien, suiker en wasgoedseep nodig gehad het. Hy het gesê dat hulle dan die volgende dag die donasies Pretoria toe sou neem en by die Gracia-huis gaan aflaai.

Jacqueline Groenewald sleep die bakkie.

Franco het trots vertel dat die span reeds 100kg maalvleis geskenk het.

Selfs al was dit ‘n koue oggend het die deelnemers en die toeskouers dit terdeë geniet. Israel Khumalo van Dowry-sekuriteit het die voortou vir sy span geneem toe hy die band binne ‘n minuut 20 keer kon omgooi, selfs met sy koeëlvaste baadjie aan. Die res van sy span wou nie afsteek nie en hulle het ook ‘n beurt gekry om die bakkie te sleep.

Welgedaan aan almal wat betrokke was.

Back to top button