‘n Halfeeu saam en steeds ‘n toonbeeld van liefde!
Louis en Ria van Tonder het by 'n Oujaarsviering ontmoet, en van toe af die paadjie saam gestap.
Daar is talle groot mylpale in ‘n mens se lewe; dae waarna jy kan terug kyk met blye herinneringe.
Om 50 jaar in die huwelik met jou lewenslange geliefde te spandeer is ‘n geleentheid wat ‘n groot viering vereis.
Louis en Ria van Tonder het mekaar sowat vyf dekades gelede tydens oujaarsvieringe ontmoet en onmiddellik verlief geraak. Hulle het op 18 Junie 1970 getrou toe albei 24 jaar oud was. Hulle het vir die afgelope 45 jaar aan die Wes-Rand gewoon, ‘n groot deel daarvan in hul huis in Breaunanda. Hier is hulle geseën met ‘n seun en ‘n dogter, asook twee kleinkinders.
Ria het genoem dat haar geheim vir ‘n lang huwelik is om “… liefde vir mekaar te hê, God altyd eerste in jou huwelik te stel, en om dankbaar te wees vir al God se genade en alles wat Hy elke dag vir ons doen”.
Louis het bygevoeg dat dit gaan oor “… respek, vertroue en liefde vir mekaar. Mens moet mekaar ook aanvaar vir wie die ander persoon is.”
Skoondogter Natalie van Tonder het verduidelik dat die twee ongelukkig nie die groot herdenking kon vier soos hulle sou wou nie, maar beplan om daarvoor te vergoed wanneer Louis uit die hospitaal is, hopelik binnekort.
“Hulle stel ‘n groot voorbeeld vir ons gesin. Hulle is beide sout van die aarde en is altyd bereid om ander mense in hul gemeenskap te help waar hulle kan. Ek wil tog graag vir hulle net die mooiste toewens op die spesiale dag. Mag God hul huwelik vir nog baie jare seën en mag hulle nog baie jare gespaar bly vir ons. Ons is baie lief vir hulle,” het Natalie vertel.
