Warm sop en komberse vir Cradle of Hope
Die Cradle of Hope het onlangs 'n skenking van Jeané van Dam, 'n Miss Grand South Africa-finalis ontvang.
Wat is lekkerder as warm sop en ‘n kombers in die winter? Danksy Miss Grand South Africa-finalis Jeané van Dam het die Cradle of Hope onlangs baie daarvan gekry.
Jeané woon in Vanderbijlpark en het verduidelik dat haar ma ‘n kleuterskool besit. Vir haar liefdadigheidsorganisasie, The Beauty of Caring se Winter Drive/ Winterveldtog is daar by die kleuterskool ‘n Care Bear-inisiatief gehou en die kinders is gevra om komberse en pakkies sop skool toe te bring.
Die modelle van Ace Models in Vanderbijlpark het ook goedere geskenk.
Toe Jeané moes besluit aan wie sy hierdie donasies gaan gee, het sy een naam oral op sosiale media raakgesien … Cradle of Hope.
Ek het gesien hoeveel moeite hulle doen om die gemeenskap te help,” het sy gesê.
Jeané het The Beauty of Caring vier jaar gelede begin toe sy slegs 16 was. Die organisasie help op verskeie plekke waar hulle nood raaksien. Dit is die tweede jaar wat Jeané vir Miss Grand SA ingeskryf het, en sy is vol hoop dat 2021 haar jaar gaan wees.
Op Maandag, 21 Junie het sy van Vanderbijlpark af gery om die donasies aan Cradle of Hope te oorhandig.
“Met die pandemie is baie mense sonder werk en almal sukkel. Maar dit maak nie saak hoe klein jou bydra is nie, al is dit net ‘n pakkie sop, dit kan iemand se lewe verander,” het sy gesê.
Sy bedank ook graag die Cradle of Hope en veral Dima Tomotomo van die organisasie vir hul professionaliteit en alles wat hulle vir die gemeenskap doen. Jeané het ook haar ondersteuners bedank vir die donasies wat hulle help insamel het.
