‘n Warm winter vir welsynkinders
Danksy 'n sukselsvolle kombersinsameling kan die Krugersdorp Welsyn die winter vir 'n aantal kinders 'n bietjie warmer maak.
Die Krugersdorp Kinderwelsyn kan die winter vir ‘n aantal kinders ‘n bietjie warmer maak nadat hulle ‘n suksevolle kombersinsameling gehou het.
Pieter van Rensburg van die Kinderwelsyn het vertel dat hulle die insameling reeds op 10 Mei geloods het maar soos met baie ander dinge het Covid-19 hulle planne ‘n bietjie omver gegooi.

Op Woensdag, 30 Junie kon die organisasie uiteindelik die ingesamelde komberse in ontvangs neem. Selfs al moes hulle ‘n bietjie langer wag het Nadine Therapy en Debt Reboot saam 80 komberse geskenk.
Hy het vertel dat vyf maatskaplike werkers die komberse in Krugersdorp en Munsieville sal uitdeel aan die kinders wat dit regtig nodig het.

“Elke bietjie help en 80 kinders sal nou ‘n bietjie warmer kry.”
Alhoewel Krugersdrop Kinderwelsyn fondse van die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling ontvang, is dit nie altyd genoeg om in al die behoeftes van die gemeenskap te voorsien nie.

“Aangesien die behoefte so groot is, is dit so belangrik dat mense en besighede skenkings doen sodat meer kinders en gesinne gehelp kan word.”
Hy het vertel dat die behoefte in die gemeenskap net groter word aangesien daar nou meer gesinne is wat werkloos en dus sonder ‘n inkomste is.
