Local newsNews

Verlate honde in pad: ‘Dit is hoe teleurstelling lyk’

Toe Ina Morris twee honde sien wat aan hul eie genade oorgelaat is, kon sy nie anders nie as om te stop en hulle te help.

Die gemeenskap was onlangs briesend toe hulle ‘n sosiale media-plasing sien van twee weggooihonde.

Toe Ina Morris en haar kleinseun die honde sien het hulle dadelik gestop om te help. “Ons kon hulle nie daar los nie, want waar sou hulle vannag slaap, en wie sou hulle optel?”

In die plasing het sy gesê dit is hoe teleurstelling lyk en bygevoeg, “So sit hulle regoor Munsieville en wag vir die ‘persoon’ wat hulle daar gedrop het. Aan die genade oorgelaat.”

Ina Morris het die foto van twee weggooihonde geneem. Foto verskaf.

Die twee bang en verboureerde honde het glo styf teen mekaar gesit terwyl hulle kliphard huil.

Ina het vir die News vertel dat haar kleinseun by ‘n bestuurskool was en dat hulle op pad terug Roodekrans se kant toe die twee honde langs die pad oorkant Munsieville gesien sit het.

“Ek kon hulle nie daar los nie. Enigiemand kon hulle vat en aan hondevegters verkoop of as lokaas vir veghonde gebruik.”

Toe sy die deur oopmaak en roep: ‘Kom kinders!’ het die twee honde vinnig in die kar gespring. Sy het opgelet dat hulle goed versorg en gemanierd was. Dit het haar tot die gevolgtrekking laat kom dat hulle net daar afgelaai is.

Dit was al laat in die middag en hulle het veeartse in die omgewing gebel maar niemand kon help nie. Ina het drie katte by die huis en het ook nie ‘n warm plek gehad waar hulle kon slaap nie, daarom was dit buite die kwessie om hulle huis toe te neem.

Een van die honde veilig by die DBV. Foto verskaf.

Die Roodepoort/ Krugersdorp DBV kon gelukkig help. “Hulle is liefdevol daar ontvang en het dadelik ‘n bak vars water, kossies en ‘n warm bedjie gekry!”

Ina het vertel dat sy glo dat alle diere net soveel bestaansreg op aarde het as mense. “God het ons aangestel om met verantwoordelikheid en liefde teenoor hulle op te tree.”

Sy het gesê sy is baie teleurgesteld in mense. “Dit is wreed en onmenslik om hulle langs ‘n besige pad aan hul eie genade oor te laat!”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button