Local newsNews

‘n Passie vir sang

Bastion-leerder Zanelle 'Luna' Mckittrick maak haar debuut in die sangwêreld met haar eerste enkelsnit 'Tot daar niks meer oor is'.

Met ‘n lied in die hart en ‘n passie vir musiek durf Zanelle Mckittrick, bekend as Luna, die wêreld aan met haar stem en natuurlike talent.

Die 18-jarige Bastionner sing reeds van kleintyd af en sy kan nie ‘n tyd onthou dat sy nie haar gesin en maats vermaak het met ‘n minivertoning nie. “Die eerste keer toe ek ‘n mikrofoon opgetel het was ek nog in die kleuterskool. Ek het vir my ma Oom olifant gesing en so verlief geraak op die gevoel van optree dat ek haar gevra het om vir my nuwe liedjies te leer.”

Zanelle se eerste oorspronklike Afrikaanse popenkelsnit Tot daar niks meer oor is, is reeds in April vrygestel en is geïnspireer deur die tragiese liefdesverhaal van Romeo and Juliet.

“Dis waar jy elke liewe deel van jou gee vir die persoon wat jy lief het – nie materialistiese goed nie, maar eerder jou drome en siel. Daar is ‘n Romeo vir elke meisie en liefde is oral om ons. Ons moet aanhou veg vir die liefde wat ons wil hê, en as ons daardie liefde vind moet ons seker maak ons gee alles,” het Zanelle verduidelik.

Sy het ook genoem dat sy in Junie vir sanger Bok van Blerk geopen het en al op talle radiostasies opgetree het.

“My doel is om iemand se dag beter te maak as hulle my musiek hoor. Ek wil graag ‘n musiekloopbaan begin en reg oor die land toer. Ek wil steeds studeer maar musiek my eerste prioriteit maak.”

Die lied self, het Zanelle verduidelik, is geskryf deur ADAM-lid Hugo Ludik, met insette deur Nick Jordan en Brendan Campbell van Rubber Duc. Dit is deur Muse Studios vervaardig.

Sy werk tans aan haar tweede enkelsnit en beplan om dit in Oktober vry te stel.

Luister na Zanelle se lied, Tot daar niks meer oor is hier: 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button