Foto van die week: ‘n Arend in sy habitat
Plaaslike fotograaf Jimmy Keet het op 'n visarend afgekom gedurend een van sy gereelde natuuruitstappies.
Plaaslike fotograaf Jimmy Keet is ‘n ywerige natuurfotograaf sedert hy sowat 12 jaar gelede ernstiger begin wild afneem het.
Op Vrydag, 23 Julie het Jimmy weer die bosse ingevaar en in Mulderdrift op ‘n breëborsvisarend afgekom wat op ‘n tak in die koel laatmiddaglug gesit het.
“Ek besoek baie lodges en natuurplekke, en dié visarend het ‘n nes in ‘n boom oor die Krokodilrivier. Ek neem foto’s sedert 1988, hoofsaaklik voertuigongelukke weens my werk by Mogale City Public Safety, maar neem die laaste 12 jaar meestal natuur- en wildlewefoto’s. Om in die bos te wees en net die kalmte te beleef is hemels!”
Vereistes vir foto’s:
• Dit moet van ‘n hoë gehalte wees. Indien dit met ‘n selfoon geneem word, moet dit van dieselfde gehalte as dié van ‘n kamerafoto wees.
• Die lêer moet groter as 1MB wees.
• Die resolusie moet minstens 72dpi wees.
• Indien daar aan hierdie vereistes voldoen word, maar die gehalte van die foto is nie hoog genoeg om gedruk te word nie, sal die foto nie aanvaar word nie. Een so ‘n voorbeeld is ‘n foto wat in die donker sonder voldoende beligting geneem is.
• Die foto moet die persoon wat dit instuur se eie intellektuele eiendom wees en nie aan iemand anders behoort nie.
• Die onderwerp van die foto moet interessant wees, of die foto moet op ‘n interessante manier geneem word.
• Die foto moet in die Mogale City-omgewing geneem word, of die fotograaf moet daar woon om in aanmerking te kom.
• Die fotospesifikasies soos ISO en sluiterspoed kan genoem word.
• ‘n Voor- en na-redigeringweergawe van die foto kan ingestuur word, wat moontlik langs mekaar gepubliseer kan word.
Bykomende vereistes:
• Gee die foto ‘n opskrif of ‘n titel
• Gee ‘n byskrif waarin die onderwerp van die foto beskryf word
• Noem die fotograaf se naam en van
• Noem wanneer die foto geneem is
• Noem die omgewing waar die foto geneem is (byvoorbeeld Noordheuwel)
Stuur foto’s as ‘n eposaanhegsel na jacoh@caxton.co.za. Foto’s wat in die Roodepoort-omgewing geneem is, kan moontlik in ons susterpublikasies Roodepoort Record of Roodepoort Northsider gepubliseer word.
