Ter nagedagtenis aan dié wat ons weens Covid-19 verloor het
Krugersdorp het onlangs nog drie lede van die gemeenskap weens Covid-19 verloor.
Dié week dink ons weer aan vriende en geliefdes in ons gemeenskap wat hul lewens as gevolg van Covid-19 verloor het.
Lees ook: Lost to Covid-19: Remembering those who’ve passed
• Enslin Naude:
Enslin is op die ouderdom van 62 oorlede. Hy was ‘n ingenieur en die jongste broer van Estelle Nel, Christeen Visagie en Willem Naudé wat almal van Krugersdorp af kom. Hy het op 8 Julie sy stryd teen Covid-19 verloor.
Totsiens Boet, ons sal jou weer eendag sien,” het sy familie geskryf.

• Kevin David Taylor:
Kevin het die afgelope jaar tyd opgeoffer om kos te help uitdeel aan behoeftiges.
Die 59-jarige Kevin is in Boksburg gebore maar het die afgelope 23 jaar in Krugersdorp saam met sy vrou Elaine gewoon.
Hy was ‘n motorwerktuigkundige en het verlede jaar as ‘n vrywilliger by die Honeyfield Charity aangesluit omdat hy vir sy medemens lief was.
Sy passies was sy kerk, sy vrou, kleinkinders, kinders en medemens.
Elaine het gesê dat hulle hom as ‘n mooi mens sal onthou wat altyd vriendelik en liefdevol was. Hy sou altyd eerste help, al was dit ten koste van homself. Hy was ook die persoon met die meeste braaiers in sy huis. Hy het ses gehad, wat dui op sy liefde vir braai.

Sy het vertel dat hulle by Kevin geleer het om Queen se Bohemian Rhapsody uit volle bors te sing, en hy het hulle elke oggend sesuur wakker gemaak om saam te bid.
Ann Bezuidenhout van die Honeyfield Charity het gesê dat die organisasie ‘n groot deel van Kevin se lewe was, en om te help donasies insamel en Sondae te help kos uitdeel was vir hom ‘n hoogtepunt.
Hy het die mense op straat se name geken. Hy het geglo dat as jy weer die mense raakloop moet jy hulle op hul name kan aanspreek.”
Sy het gesê dat sy dood ‘n baie groot verlies vir die organisasie is, en dat hulle Kevin baie gaan mis.
Hy word oorleef deur sy vrou, kinders en kleinkinders.
• Leon van Heerden:
Leon van Heerden, bekende eienaar van Entin Insurance Brokers het op Maandag, 5 Julie sy stryd teen Covid-19 verloor. Leon en sy vrou Rochelle is albei op 16 Junie in Krugersdorp Privaat Hospitaal opgeneem. Op 17 Junie is Leon na die intensiewesorg-eenheid oorgeplaas waar hy 18 dae deur dr Vermooten en sy span versorg is. Rochelle is op 26 Junie ontslaan.
Sy heengaan laat ‘n groot leemte in die versekeringsbedryf en op die gholfbaan. Hy sal altyd onthou word deur sy familie, vriende en kliënte as ‘n vriendelike, opregte man met integriteit. Hy het altyd tyd gemaak om iemand by te staan en het gehelp waar hy kon.
Hy word oorleef deur sy vrou Rochelle, kinders Mitchell en Jeanne-Marie, kleinkinders, ouers, en familie.
Die News nooi die gemeenskap om ‘n kop-en-skouersfoto in te stuur van ‘n geliefde wat hulle weens Covid-19 aan die dood afgestaan het, met ‘n kort huldeblyk aan die persoon daarby.
Stuur die inligting na natashap@caxton.co.za.
Ons sal dit op ons gedenkbladsy plaas.
Laat ons hulle nooit vergeet nie.
