Local newsNews

‘Ek moet vyf tot ses keer ‘n dag spuit’ – heroïenverslaafde

Cradle of Hope-organisasie deel nog 'n storie van 'n inwonende begunstigde verslaaf aan heroïen.

*Joane was meer as een keer ‘n inwonende begunstigde van ons House of Restoration. Die verhaal word met haar toestemming vertel.

“Hello Auntie,” groet sy my.

“Ek’s nou daar, maak net my smoke klaar.” Ek smile vir die auntie. Nie antie, soos in kommen Afrikaans nie … auntie, soos met klas.

‘n Bietjie salsa by die kommen. Dit maak dit on-kommen. Dit maak dit eerlik, soos in authentic. (No pun intended.) En ek hou van authenticity, so ek is heppie om auuuntie te wees. En bely ek, later in ons sessie (na al die important stuff hanteer is), my nuuskierigheid … hoe lyk jou dag op straat?

Jy hoef nie te vertel nie want dit is uit blote fassinering en behoefte om regtig te kan verstaan, dat ek vra. Vanuit my raamwerk en nie die kliënt s’n nie. So ek is eerlik daaroor.

“Nee Auuntie, ek mind nie. In die oggend as ek wakker word, is dit nag! Dan moet ek my wake-up kry. Op ‘n slegte dag het ek twee bags nodig. Ek rush na die dealer toe. Soms wil hy nie vir my twee gee nie, maar ek loop agter hom aan en pes hom, tot hy dit doen!”

“Wat kos ‘n sakkie?” vra ek. “R50 …? Hoe lank hou dit jou?”

“So vier tot vyf ure …”

“So jy moet vyf tot ses keer per dag spuit?”

“Ja Auntie. Ek sal nooit sonder dit in die straat kan staan nie.”

“Hoeveel maak jy op ‘n dag in die straat?”

“Hang af van waar ek staan, Aauuntie. Ek like dit om onder by Peter Road te staan dan maak ek so R600 ‘n dag. Party dae kry ek net R50 of R100. Dis nogal sh!@.”

“Ek kan dink, as jy moet begin met twee bags en dan moet jy nog vier tot vyf kry, kan dit jou R500 tot R600 ‘n dag kos?”

“Ja, Auntie.”

“En kos? Wat eet jy?”

“Ek koop vetkoek en tjoklits. Vyf. Dis wat ek eet.” Ek probeer in my kop ‘n prentjie skep van wat deur ‘n lyf gaan wat met vetkoek, tjoklits en heroïen moet oorleef … Ek kan nie. Maar ek het nog nooit my lyf verkoop nie. “Auntie my plek is altyd netjies. (En dit is, ek weet die kamer waar sy slaapplek gehad het was altyd netjies.)

“Maar Auntie weet, die mense in hierdie plek (waar sy nou bly) maak my so die m!@r in. Ek weet ek mag nie my broer sien nie maar ek’t vir hom ‘n bag vol stompies bymekaar gemaak. Hulle moes dit net vir hom gee en hulle het nie.”

En ek dink, liewe Here! Hoe werk dit as jou lewenskwaliteit beïnvloed word deur vir iemand stompies bymekaar te maak? En ek besef weereens ek is klein en my verstaan min, maar my liefde vir hierdie mens en God se genade is groot.

*Skuilnaam

Vir meer inligting oor die Cradle of Hope-organisasie kontak Ronel by 072 823 3525, per epos na ronel@thecradleofhope.org of besoek hul webblad www.thecradleofhope.org.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button