Aan die brand vir die Here
Twee mans het van die verkeerde pad af weggedraai deur hul harte vir die Here te gee, en nou wil hulle ander help.
Na jare op die verkeerde pad het twee inwoners van Villa Gloria nie net hul lewens omgedraai nie, maar ook gekwalifiseer as kapelane.
Ministry of Hope het ‘n ruk gelede ‘n tentkerk by Villa Gloria opgerig en dit is waar André de Villiers en Peet Lourens geleer het om die Here lief te hê.
André het die News vertel dat hy as jong man gedrink en later dwelms gebruik het. “Ek was ‘n weekend warrior; ek het gelewe vir naweke,” het hy gesê.

Net voor die eerste inperking het hy sy werk verloor en van sy pakketgeld is uitbetaal. André het daardie maand R25 000 uitgekuier, en die laaste dwelms wat hy gebruik het, was gedokter. André onthou dat hy daardie aand die Here gevra het om hom te red, en dat hy toe ook sy hart vir die Here gegee het.
“Die Here het my kragtig gered. Ek is van die dag dat ek gered is tot vandag heeltyd aan die brand vir die Here. Daar is nie op-en-afdae nie.”
Peet het vertel dat hy ook werkloos was. Nadat hy ook skoon gekom het van dwelms en alkohol het hy die Here gevra om hom te help om ‘n werk te kry. Hy het ‘n onderhoud by ‘n besigheid 500m van sy huis af gekry en sommer dieselfde dag nog ‘n aanbod van ‘n besigheid net 200m van die huis af gekry.
Op 8 Augustus het die twee mans gegradueer as volwaardige kapelane nadat hulle deur Community Service Chaplains studeer het. Erika Swart en Deon Bresler van Ministry of Hope het vertel dat die twee mans beslis die naam van die Here dien.
Erika het bygevoeg dat hul organisasie ook onlangs met ‘n sopkombuis in Krugersdorp-Wes by Christina Sirkel begin het, en dat ‘n vrywilliger een keer ‘n week vir die sowat 42 inwoners wat hulp nodig het, kos maak en dit uitdeel.
Die organisasie het reeds ‘n stoof, gas en vrieskas vir die sopkombuis, maar Erika het vertel dat hulle afhanklik is van donasies. Indien jy dalk wil bydra tot hul organisasie kan enige donasies by die Ministry of Hope-kleuterskool by Engelbrechtstraat 25 afgelewer word. Hulle is ook dringend op soek na vrywilligers om as onderwysers by die skool te help.
