‘n Nuwe plekkie vir koffie en klets
Die Residentia Moria-inwoners het nou 'n nuwe koffie- en teehoekie waar hulle lekker kan kuier.
Daar is min dinge so lekker soos ‘n kletssessie oor ‘n koppie koffie, en die inwoners van Residentia Moria Bejaarde Tehuis het nou hul eie koffie- en teehoekie vir sulke kuiers.
Na baie uitstel en maande se harde werk is die koffie- en teehoekie uiteindelik op Sondag, 22 Augustus geopen.

Aan die begin van 2020 het Nadine van Staden, Mev Krugersdorp 2020, gevra hoe sy kan help by die tehuis.
Daar is toe gesê dat die inwoners ‘n koffie- en teehoekie sou waardeer. Met die inperkingsvlakke wat heeltyd verander het, kon baie inwoners soms nie hul families sien nie en dit het die moraal in die tehuis ‘n bietjie laat laat daal.

Jorinda van der Merwe wat by die sentrum werk het die fisiese werk vir die koffie- en teehoekie gedoen en tot laat saans mure geverf, kaste afgeskuur en oorgeverf, terwyl Nadine gesorg het vir donasies van bekers, koffie, melk en suiker. Die inwoners het toe ook self die letters versier wat die Koffie & Tee Hoekie sy naam gee.
“Dit het gevoel asof dit vir ewig vat,” het Nadine vertel nadat die opening talle kere uitgestel moes word.
Bonita Willemse, eienaar van die My Plesier-bakkery het vir die inwoners kolwyntjies gebak vir die opening ter nagedagtenis aan haar eie ouma en oupa wat sy onlangs aan die dood afgestaan het. Sy en haar ma Elmari het die opening bygewoon wat op dieselfde dag as haar oupa se verjaarsdag geval het.

Ronell Furniss, ‘n finalis in vanjaar se Mnr en Mev Krugersdorp-kompetisie was ook daar, en sy en Nadine het geskenkte boeke vir die biblioteek gebring.
Heilie van der Merwe, maatskaplike werker by die tehuis het die inwoners bedank vir al hul moeite en gesê dat sonder hulle dit nie moontlik wees nie.
