Local newsNews

Ons 2020 Ster-status wenner sorg vir aangrypende kortfilm

Die 2020-wenner van Ster-status, Charné Kemp en ander finaliste het onlangs hul eie kortfilm tydens 'n glansryke première in Pretoria bekend gestel. LET WEL: Van die foto's kan dalk sensitiewe lesers ontstel.

Gekleurde vellies het die afgelope paar jaar mode geword vir talle Suid-Afrikaners. Maar wat daarvan as ‘n paar pienk vellies iets veel meer vir iemand voorstel as net ‘n paar gemaklike, stylvolle loopgoed? Wat sal daardie storie kan wees?

Dit is waaroor Charné Kemp gewonder het toe sy begin skryf het aan die draaiboek vir die kortfilm Pienk Vellies. Haar gedagtes het onmiddellik met haar op loop gegaan en elke toneel het een vir een in haar gedagtes begin afspeel.

Bianca Rautenbach gedurende die ongeluk-toneel. Foto: Marilize Coetzee Photography.

As finalis vir die VIA Ster-status-titel is daar van haar en die ander finaliste verwag om hul eie kortfilm te skryf en te skiet. Hulle is in groepe ingedeel en het begin beplan. Met dié dat die pandemie die meeste mense se planne omver gegooi het, was daar nie genoeg tyd om Pienk Vellies verlede jaar klaar te maak nie, en so het dit oorgestaan tot na Charné as die algehele wenner aangewys is.

Christina Pretorius en Palesa Masuku neem hulle toneel op. Foto: Marilize Coetzee Photography.

Charné staan hierdie jaar in as die aanbieder van die derde seisoen van SterStatus en so tussen die opname daarvan deur het sy en haar groep besluit om die kortfilm te voltooi. Op Woensdag, 1 September het hulle ‘n glansryke première aangebied wat bygewoon is deur hul families, vriende en ‘n hele paar ander bekendes soos Eloise Cupido van Ontbytsake; akteur David Konrad; sanger Ché, en Miss Grand SA-wenner Jeanè van Dam. Die Diep in die Berg Funksie- en Konferensiesentrum het die lokaal geborg en die gaste kon na die funksie by hul restaurant gaan eet.

Pienk Vellies, met regisseur Stephen Segal aan die stuur, begin met Nina de Wildt op haar troudag, op pad na die kapel in haar wit rok en haar geliefde paar pienk vellies. Die kyker sien die terugflitse wat Nina oor haar lewe kry en hoe haar lewe verander het na ‘n gru-ongeluk. Na hierdie gebeurtenis was daar altyd ‘n paar pienk vellies om haar deur goeie en slegte tye te dra.

Phia-ri Olivier met haar pienk vellies. Foto: Marilize Coetzee Photography.

Later, terwyl Nina op universiteit was het sy haar huidige twee beste vriendinne leer ken wat ook haar bruidsmeisies word, en haar toekomstige man en sy “riller van ‘n skoonma”, het Charné verduidelik.

Na die vertoning het die produksiespan die agter-die-skerms-beeldmateriaal vir die gehoor gewys en verduidelik hoe die kortfilm geskiet is.

Bianca Rautenbach met haar grimering vir die ongeluk-toneel. Foto: Marilize Coetzee Photography.

“Ek het die voorreg gehad om die filmdraaiboek te skryf, die assistentregisseur te wees en ‘n rol daarin te vertolk. Mens besef nie altyd hoeveel harde werk, min slaap en warm son dit vat om ‘n film aanmekaar te sit nie. Dit is ‘n uitdaging om ‘n kortfilm met 14 karakters te skryf – die 12 finaliste en twee manskarakters. Ek het baie geleer en daardie naweek net vier uur slaap ingekry,” het Charné verduidelik.

Wildebees het die vellies en die plaas geborg waar die kortfilm geskiet is.

Pienk Vellies is tans aanlyn beskikbaar op Nettv.co.za waar die ander Ster-status-episodes en -video’s ook beskikbaar is.

Danelle Dreyer met haar grimering vir die ongeluk-toneel. Foto: Marilize Coetzee Photography.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button